Citrus_shutterstock_199836056_RGB-300dpi-copy

Wees gereed vir sitrusblomtyd

Deur Waldo Krige
Senior Hortoloog, Wes-Kaap
Agri Technovation

Die sitrusblom
Sitrus is ’n meerjarige, immergroen gewas met ’n komplekse groeiwyse. Daar kan in ’n enkele groeiseisoen tot drie groeistuwes verwag word.
Sitrus het jaarliks een blom- en vrugontwikkelingsiklus. Suurlemoene en lemmetjies kan wel
meer as ’n enkel siklus deurgaan in ’n groeiseisoen. Blomtyd kan verwag word in die lente. Reproduktiewe ontwikkeling is ’n respons in gewasse wat blom en word geïnisieer deur die transport van ’n endogene sein vanaf blare of wortels na meristematiese weefsel wat die vermoë besit om morfogenese te ondergaan. Morfogenese word beskryf as die vermoë van selle om te verander vanaf vegetatief na reproduktief.
Blomdifferensiasie behels die morfologiese oorgang van vegetatiewe meristeme na reproduktiewe meristeme (blomme). Blomknoppe ondergaan die volgende differensiasie: vegetatiewe loot (geen blomme) na gemengde lote (blomme en blare) na die mees reproduktiewe loot (blaarloos met een blom). Antese (blom) breek aan met die voltooiing van die blominduksie en differensiasie prosesse.
Lang, koue periodes in die winter lei tot ’n latere antese deur die vertraging van die inisiasie van die differensiasie, asook die onderdrukking van die groeitempo van die knop. Warmer temperature tydens blomdifferensiasie verkort die ontwikkelingsperiode van die knop en die blom sal dus vroeër verskyn.
Sitrusblomme set partenokarpies wat beteken die blomme is selfbestuiwend. In kultivars wat pitte kan bevat moet die verskillende kultivars se stuifmeel suksesvol oorgedra word tot op die stigma. Dit lei tot stuifmeelbuisgroei en bevrugting, wat die vorming van pitte tot gevolg het.
Pitlose vrugte word deur die verbruiker verkies, derhalwe word daar van fisiese versperrings gebruik gemaak byvoorbeeld nette, om te verhoed dat die saadvormingsproses plaasvind.
Na die verloop van die bestuiwingsproses, speen die blom sy blomblare, meeldrade en styl en deur middel van seldeling en selvergroting ontwikkel die vrugbeginsel in ’n vrug.
Voedingsbehoefte tydens blom en hoe om dit aan te spreek
Tydens blomtyd, is die blom die grootste sink van koolhidrate op die boom, maar as daar vrugte begin ontwikkel, kry die vrugte voorkeur. Sitrus se swaar voedingsbehoefte in die lente kan toegeskryf word aan die blomorgaan se onttrekking van stikstof (N), fosfaat (P), kalium (K) asook mikro-elemente.

 

Gedurende blomtyd word die boom onder geweldige stres geplaas deur al die blomme wat teenwoordig is. Dit is daarom van kritiese belang om die boom te help om die stres effektief te bestuur. Hoe meer effektief die stres bestuur word, hoe makliker kan ’n goeie vrugset verkry word. In blomtyd kan daar tot 70 000 blomme op een slag in ’n boom teenwoordig wees, waarvan slegs ’n klein persentasie gaan set en vrugte word, wat dan aan die einde van die seisoen geoes word.
Die koolhidraatstatus speel ’n direkte rol in die hoeveelheid asook kwaliteit van die blomme. Indien die koolhidraatstatus optimaal was tydens blominduksie asook tydens die inisiasieperiode, sal die boom wel ’n sterk en gesonde blom hê van goeie kwaliteit. Blomme ontwikkel eerste en meer gekonsentreerd op die apikale posisies van die loot, dus verste van die stam af. Daar word na sitrusblom-kwaliteit verwys as groenblom en witblom.
Groenblom word beskryf as ‘meer as een blaar en blom uit ’n enkelknop’. Wanneer meer enkelblomme op die onderste helfte van die blomloot vorm, word daarna verwys as witblom. Groenblom lei tot beter vrugset en vruggrootte as witblom aangesien die tipiese loot waarop ’n groenblom voorkom ’n sterker, dikker loot is. Daar is dus ’n sterker vervoerstelsel vir water en voedingstowwe na die groenblom as na die witblom.
Wortels
Wortels is, soos blare, ’n primêre orgaan in die sitrusplant. Wortels is verantwoordelik vir die opname van water, opgeloste voedingstowwe en die stoor van koolhidraatreserwes. ’n Goeie, gesonde wortelstuwing in die lente is van kardinale belang op sitrus om te verseker dat addisionele wortelkapasiteit geskep word om die nuwe groeistuwing te ondersteun.
Die nuwe voedingswortels se wortelpunte speel ’n baie belangrike rol in die effektiewe opname van kalsium, wat die sleutel tot goeie skilkwaliteit is. Gesonde wortels is ’n baie belangrike orgaan vir die stoor van koolhidrate, wat weer ’n direkte invloed het op die kwaliteit van die blom wat die boom kan stoot.

Figuur 1: Die vrugsteel (A) ontstaan vanuit terminale of okselknoppe (B) wat gevind word tussen die loot (C) en die blaar (D). Dit dien as ’n vaskulêre binding tussen die lote en blare deur aan die kelk te heg (E). Geheg aan die kelk word daar blomblare (F) gevind wat die helmknopdraende meeldrade (G) en stamper omvou. Die stamper bestaan uit die stigma (H), styl (I) en vrugbeginsel (J). (J. Stander, 2015. Introduction to the physiology of citrus flowering, SA Fruit Journal 82-87.)

Koolhidrate in die vorm van stysels word in die wortels gestoor. Stysel is die vorm waarin oortollige suikers gestoor word. Stysels word afgebreek na suiker sodat die boom dit kan gebruik as energiebron tydens blomtyd. Danksy die kommersiële ITEST™ CARBOHYDRATESdiens wat Agri Technovation bied, is dit nou moontlik om die koolhidraatvlakke in sitrusbome te meet. Hierdie ontledings word gedoen by Agri Technovation se Plant Physiology Research Center laboratorium in Wellington, Wes-Kaap.

Die meet en ontleding van koolhidraatvlakke (energievlakke) in die wortels en in die blare gedurende die lente, kan dus gedoen word om besluite rondom die manipulasies van blom en ook voedingstrategieë aan te pas. Kontak gerus jou naaste Laeveld Agrochem-agent vir meer inligting rondom koolhidraatontledings en hoe dit gebruik word. ’n Sterk, gesonde wortelstuwing is nie altyd teenwoordig nie aangesien grondtemperature soms teen die lente nog nie gunstig is vir wortelontwikkeling nie. Sitrus kry ’n sterk wortelstuwing in die lente. Figuur 2 links toon die gemiddelde wortelgroei van ’n growweskil suurlemoen-onderstam by ’n gemiddelde grondtemperatuur van 20 – 25°C (grafieke links) terwyl die grafieke regs die gemiddelde wortelgroei toon vir Carrizo-Citrange onderstam by dieselfde gemiddelde grondtemperatuur.
Produkte wat die stimulering van ’n sterk, gesonde wortelstuwing fasiliteer is TERRAMAX™ en RELEASE LPH™. TERRAMAX™ is ’n erdwurmekstrak-tee wat by die wortels toegedien word om wortelontwikkeling te bevorder. TERRAMAX™ bevat natuurlike plantgroeireguleerders wat wortelontwikkeling en -vestiging bevorder.
Die produk het sy oorsprong in Vermicast, en derhalwe word die grond se biologiese gesondheid en aktiwiteite ook daardeur verbeter, wat weer lei tot verbeterde mikrobiese aktiwiteit. Sodra die mikrobiese aktiwiteit in die grond verbeter, sal die voedingstofbeskikbaarheid asook -opname verbeter.
RELEASE LPH™ is ’n kelp en fulviensuurbasisproduk wat geformuleer is om wortelontwikkeling te bevorder in ongunstige toestande. RELEASE LPH™ bevorder mikrobiese aktiwiteit wat wortelgroei tot gevolg het. RELEASE LPH™ beskerm ook die wortelrhisosfeer teen skade weens soute wat teenwoordig mag wees in die grondprofiel. Daar is verskeie redes hoekom dit belangrik is om die rhisosfeer te beskerm, onder andere om te verseker dat voedingsopname van ’n kritiese element soos kalsium, optimaal kan plaasvind.