SUGAR RUSH™

Sugar Rush™: Meer effektiewe plaagbeheer laat ʼn soet smaak in die mond

Sugar Rush™: Meer effektiewe plaagbeheer laat ʼn soet smaak in die mond

deur Allan Huysamen, Besigheidsbestuurder: Byvoegmiddels, Agri Technovation en Dr. Ernst de Beer, Besigheidsbestuurder, Laeveld Agrochem

’n Blaaspootjie-instar op ’n suurlemoenvrug langs die kelk-area (verwyder). Skade is duidelik sigbaar.

Inleiding

Sekere insekplae, soos die Suid-Afrikaanse sitrusblaaspootjie (Scirtothrips aurantii Faure) (Thysanoptera:Thripidae) of “blaaspootjie” is ʼn ernstige bedreiging vir die produksiepotensiaal van gewasse en die bemarkbaarheid van landbouprodukte. Noukeurige strategieë word vereis ten einde die effektiewe beheer en bestuur daarvan onder die skade- en ekonomiese drempelvlakke te verseker.

Blaaspootjie kan geweldige ekonomiese skade veroorsaak deurdat hulle monddele die plantselle deurboor om sap te onttrek, wat kosmetiese skade asook virusinfeksies kan veroorsaak. Die implementeringskoste gekoppel and die effektiewe bestuur van die plaag kan ʼn beduidende deel van die produsent se totale gewasbeskermingsbegroting uitmaak. Vanweë die ekonomiese impak, is dit van kritieke belang dat die gewasbeskermingsprodukte wat toegedien word, optimaal effektief moet wees.

Insekvoeding-stimulering

Verskeie studies het die noodsaaklikheid van sekere chemikalieë soos suikers, aminosure en proteïene gerapporteer, vanweë die feit dat hulle óf as stimulant, óf as afskrikmiddel op insekvoeding impakteer.

Die chemikalieë wat insekvoeding stimuleer (fagostimulante), bind aan sekere reseptore (fagostimulatoriese selle) tydens voeding en verhoog die voedingsintensiteit. Hierdie reseptore is in alle bestudeerde plantvoedende insekte gevind en die verwagting is dat hulle universeel teenwoordig is en as instrument deur insekte gebruik word om tussen voedselbronne te onderskei.

Rol van suikergebaseerde byvoegmiddels

Sommige insekdoders wat vir die beheer van blaaspootjie gebruik word, maak grootliks staat op ʼn maag-aksie van die insek en die effektiwiteit van die doder word ontsluit deur inname daarvan deur die insek.

Wanneer suiker – met genoemde voedingstimulanteienskappe – by sekere insekdoders gevoeg en saam gespuit word, kan dit die inname van die insekdoder en suikermengsel deur die insek aansienlik verhoog en so ʼn vinniger, meer verreikende en effektiewe impak tot gevolg hê. Omgekeerd, kan swak voedingsaktiwiteit deur die teikenplaag lei tot die onvoldoende inname van die aktiewe bestanddeel en derhalwe swak plaagbeheer tot gevolg hê.

Vir die toediening van sekere gewasbeskermingsprodukte word aanbeveel dat wit rietsuiker by tenkmengsels van lokbespuitings gevoeg word om voordeel te trek uit die voedingstimulanteffek.

Konvensionele wit rietsuiker bied egter verskeie uitdagings, insluitend enkel-suiker (sukrose) samestelling, risiko van diefstal, uitdagings met betrekking tot die berging daarvan, asook moontlike kontaminasie tydens berging.

Die oplossing: SUGAR RUSH™

SUGAR RUSH™ is ʼn unieke, hoë-konsentrasie mengsel van fagostimulant-natuurlike suikers, insluitend fruktose en sukrose. Dit dien as ʼn kragtige voedingstimulant wat saam met toepaslike gewasbeskermingsprodukte toegedien kan word.

Die toediening van SUGAR RUSH™ saam met relevante maag-aksie aktiewe bestanddele, verbeter die doeltreffendheid van toedienings deur ʼn verhoogde voedingsintensiteit by teikenplae te stimuleer, wat lei tot die vinniger inname van maag-aksie insekdoders.

Vir optimale effektiwiteit beveel Agri Technovation aan dat 200 ml SUGAR RUSH™ per 100L water toegedien word waar toepaslike insekdoderetikette ʼn addisionele 200 g wit rietsuiker vir lokbespuitings spesifiseer.

SUGAR RUSH™ verminder die risiko’s wat met die gebruik en berging van wit rietsuiker geassosieer word, insluitend die wat verband hou met diefstal, die stoor daarvan in chemise winkels en moontlike verbruik na kontaminasie.

Pesticides - Sugar Rush

SUGAR RUSH™

900 g/L konsentrasie

°Brix = 80 (onverdunde produk)

Veelvuldige-suiker samestelling

Maklik om te vermeng en toe te dien

Gevolgtrekking

Die handhawing van maksimum doeltreffendheid van toegediende gewasbeskermingsprodukte is ʼn belangrike stap in die optimalisering van plaagbestuurstrategieë, tesame met die korrekte tydsberekening van toepassings en monitering en implementering van GPB (Geïntegreerde Plaagbestuur). Dit is veral belangrik in die geval van peste soos blaaspootjie, waar die nadelige impak op opbrengs en winsgewendheid verwoestend kan wees.

Die gebruik van SUGAR RUSH™ as ʼn voedingstimulant, saam met rel evante maag-aksie produkte, kan plaagbeheer aansienlik verbeter en die doeltreffendheid van hierdie toedienings, wat ʼn groot deel van die gewasbeskermingsbegroting uitmaak, positief beïnvloed.

Verwysings:

  1. L. A. Mound, Bull. Entomol. Res., 1971, 60, 547–548.
  2. F. Kindt, N.N. Joosten, D. Peters, W.F. Tjallingii, J. Insect Physiol., 2003, 49, 183-191.