Release LPH

RELEASE jou grond se voedingstof en mikrobiologiese handrem

RELEASE jou grond se voedingstof en mikrobiologiese handrem

 deur Schalk du Plessis, Senior Grondkundige

Inleiding

Grondvoedingstowwe, soos enige ander materie, is in hul mees eenvoudige vorm ʼn versameling en rangskikking van verskeie elemente. Vir gesonde plantgroei moet hierdie voedingstowwe nie net in voldoende hoeveelhede nie, maar ook, onder andere, in plantbeskikbare vorms en verhoudings in die grond teenwoordig wees.

Die nie-beskikbaarheid van voldoende voedingstowwe het dieselfde impak op plantgroei as ʼn handrem wat ʼn voertuig se beweging strem. Dit is egter moontlik om hierdie stremming tee te werk en die handrem as’t ware te laat sak (te “release”) deur die mikrobiologiese aktiwiteite in die grond korrek te bestuur.

Primêre voedingstofbronne

Daar is drie hoofbronne wat voedingstowwe aan die wortelsone van die plant voorsien.

Die eerste is bemestingstowwe wat toegedien word om voedingstofvlakke in die grond te verhoog en onderhoudbemesting om aan die onttrekkingsbehoefte van die plant te voorsien. In hierdie geval is die plantbeskikbaarheid van die voedingstowwe afhanklik van die vorm waarin dit toegedien word, asook die grondomgewing waarin dit geplaas word.

Die tweede bron behels die vrystelling van voedingstowwe deur die verwering van minerale wat natuurlik in die grond teenwoordig is. Die natuurlike verweringstempo van hierdie minerale is egter te stadig om die plant se behoefte aan voedingstowwe voldoende te ondersteun.

Die derde is wanneer organiesgebinde voedingstowwe in die grond transformeer na ʼn plantbeskikbare vorm deur mikrobiese aktiwiteite wat plaasvind tydens ʼn proses genaamd mineralisering. Ten einde optimale plantopname van voedingstowwe te verseker, moet daar gefokus word om voedingstowwe vanaf al drie hierdie bronne so plantbeskikbaar as moontlik te maak. Deur die effektiewe bestuur van hierdie voedingstofbronne kan voedingstowwe teenwoordig in die grond effektief deur die plant opgeneem word om sodoende optimale groei en uiteindelik opbrengs te verseker.

RELEASE LPH™

Bemestinggroep 3 | Reg. nr. M441 | Wet 36 van 1947

 Agri Technovation se RELEASE LPH™-produkreeks is spesifiek ontwikkel om produsente te help met die doeltreffende opname van voedingstowwe deurdat dit die grondmikrobiologie bevorder, wortelgroei stimuleer en die opneembaarheid van voedingstowwe verbeter. Die produkte bevat ʼn unieke mengsel van organiese suur, kelp-ekstrakte en aminosure, wat elk ʼn spesifieke bydrae lewer tot verbeterde voedingstofopname en mineralisering.

Ten einde mineralisering te dryf en sodoende plantbeskikbare voedingstowwe uit organiese materiaal vry te stel, is dit nodig dat voldoende mikrobiese aktiwiteit plaasvind. Dus sal enige aksie wat die uitdrukking van mikroörganismeaktiwiteit verhoog, die vrystelling van voedingstowwe verbeter.

Organiese suur

RELEASE LPH™ bevat ʼn komponent organiese suur (Figuur 1). Die organiese suur is van relatief klein molekulêre grootte, wat die chemise reaktiwiteit daarvan verhoog. Organiese suur bevorder/verhoog die mineraliseringtempo van organiese materiaal deurdat dit die vermoë het om voedingstowwe meer beskikbaar te maak vir die mikroörganismes en die plant. As ʼn aktiewe en maklikverteerbare vorm van koolstof, het organiese suur ook die vermoë om mikrobiese groei direk deur die koolstof en energie-inhoud daarvan te stimuleer.

Afgesien van die feit dat organiese suur die voedingstofopname uit die grond na die plant verbeter, is die rol wat dit speel as biostimulant ook goed gedokumenteer.

 

  • Navorsing het getoon dat organiese suur plantgroei, opbrengs en vrugkwaliteit, asook kalium-, magnesium- en ysteropname in tamaties verbeter.
  • Toediening van organiese suur het wortelen lootlengte, chlorofilinhoud, asook voedingstofopname in mielies verhoog.
  • By komkommers het die toediening van organiese suur die plant se weerstand teen soutgehaltestremming verbeter.
  • Proewe het ʼn verbetering in weerstand teen plantsiektes getoon in blaarslaai.

 

Figuur 1: Voorbeeld van ‘n fulviensuur molekulêre struktuur

Kelp-ekstrakte

Die effektiwiteit van voedingstofopname deur die plant is nie net gebaseer op die beskikbaarheid van die voedingstof nie, maar ook op die plant se vermoë om die beskikbare voedingstowwe op te neem. Optimale voedingstofopname hou direk verband met ʼn effektiewe en gesonde wortelstelsel. Kelp-ekstrakte is welbekend vir hul biostimulerende eienskappe, spesifiek die bevordering van wortelhaarontwikkeling.

Die RELEASE LPH™-produkreeks se formulering bevat kelp-spesies bekom vanaf verskillende geografiese liggings. Verder word ʼn baie spesifieke (eie-aan) ekstraksiemetode gebruik om te verseker dat soveel moontlik biologiese aktiewe bestanddele onttrek word en in die finale produk teenwoordig is. Terwyl kelp plantwortelgroei verbeter, beïnvloed dit ook die grondstruktuur, die grondchemie, asook die mikrobiese populasies op verskeie maniere.

Die feit dat verskeie komplekse polisakkariede in kelp-ekstrakte voorkom hou verdere voordele in, insluitend die verbetering van die grondwaterhouvermoë, die verhoging van partikel-aggregasie en om as koolstofbron vir mikrobiese groei te dien. Die kelp-komponent in RELEASE LPH™ bevorder dus ook die groei van die grondmikrobiologie, wat voedingstofmineralisering verhoog en die voorsiening van voedingstowwe aan die plant verbeter.

Aminosure

Die laaste belangrike komponent in RELEASE LPH™ wat die vrystelling van voedingstowwe beïnvloed, is aminosure – ʼn stikstofbevattende komponent wat betrokke is by elke fisiologiese en metaboliese proses in ʼn plant asook in grondmikrobiologie. Aminosure dien as ʼn bron van stikstof en koolstof vir mikroörganismes in die grond, wat mikrobiese aktiwiteit en diversiteit verhoog. Hierdie verhoogde mikrobiese aktiwiteit verhoog voedingstofmineralisering en dus ook die vrystelling van voedingstowwe aan die plant. Behalwe vir die opregulering van mikrobiologie, vorm aminosure ook voedingstofchelate wat voedingstofopname direk bevorder. Sekere aminosure, soos glutamaat, prolien en glisien in RELEASE LPH™, kan ook wortelgroei en -ontwikkeling stimuleer. ʼn Beter-ontwikkelde wortelstelsel verhoog die opname van voedingstowwe en water, wat lei tot ʼn gesonder plant.

Die bron van aminosure in RELEASE LPH™ is vanaf kelp, ʼn plantgebaseerde aminosuur wat verskeie biostimulerende werkingswyses het. Deur die gebruik van hierdie aminosure kan RELEASE LPH™ dus die metabolisme, groei en stresverdraagsaamheid van plante natuurlik stimuleer. Daar is bewys dat hierdie produkreeks ook ʼn doeltreffende plantgroeistimulant vir verskeie landbougewasse is. Die kombinasie van organiese suur, kelp-ekstrakte en aminosure lewer ʼn produk wat ʼn kragtige grondhernuwing- en biostimulerende effek verseker om gewasproduksie te verhoog.

Die RELEASE LPH™-produkreeks bied aan produsente ʼn natuurlike manier om die volle potensiaal van hul grond te benut, wat optimale voedingstofbeskikbaarheid en plantopname, asook gebruiksdoeltreffendheid van produkte verseker, terwyl die uitwerking van omgewingstresfaktore versag en ʼn volhoubare oesopbrengs verseker word.

Die RELEASE LPH™-produkreeks is dus effektiewe produkte wat produsente kan help om die grondvoedingstof-handrem te laat sak.