Groei posts-03

Presisieboerderypraktyke: ’n Hupstoot vir aartappelverbouing in Suid-Afrika

Presisieboerderypraktyke bied ’n oplossing

Daar is verskeie presisieboerderypraktyke wat ingespan kan word om meer effektief met aartappels te boer en insetkostes te beperk. Praktyke sluit in grondklassifikasie, grondchemiese analise, koolhidraat-, en grondgesondheidontledings, pes- en siektemonitering asook die gebruik van satellietbeelde.

Hoofspeler in die groentebedryf

Aartappelproduksie verteenwoordig ’n stewige 45% van Suid-Afrika se totale groenteproduksie en word daarom beskou as die grootste groentegewas in die bedryf. Huidig word die primêre aartappelsektor (verbouing) op R8 miljard en die sekondêre sektor (prosessering) op R25 miljard gewaardeer, wat ongeveer 3-4% van die totale landbousektor se BBP uitmaak. Die totale jaarlikse produksie word oor ongeveer 53 000 ha verbou en sowat 2,5 miljoen ton aartappels word per jaar geproduseer. Die totale aantal hektare waarop verbou word, het oor die afgelope twee dekades afgeneem vanweë verskeie redes soos sosio-ekonomiesverwante oorsake, veranderende klimaatsomstandighede en toenemende insetkostes. Ten spyte hiervan het die totale produksie van aartappels toegeneem.

Al hoe meer in aanvraag

Die toenemende produksiesyfer word gedryf deur verhoogde aanvraag na aartappels as gevolg van verstedeliking, ’n groter verbruikersmark dus, en die feit dat die nederige aartappel al hoe meer as ’n stapelvoedsel beskou word en ’n groter rol speel in voedselsekuriteit. Vanweë hierdie verhoogde aanvraag en die feit dat die aantal geplante hektare toenemend afneem, is dit uiters noodsaaklik dat aartappels meer en meer effektief verbou moet word.

Die duur aptyt van ’n aartappel

Die aartappelplant (Solanum tuberosum) is ’n hoogs produktiewe gewas wat binne ’n kort periode (tussen 90 en 120 dae) ’n beduidende hoeveelheid droë materiaal onder die grond akkumuleer. Aartappels het egter ’n hoë voedingstofbehoefte en ten einde die oespotensiaal te optimaliseer, moet voldoende voedingstowwe deur middel van ’n goeie kunsmisprogram aan die plant voorsien word. Vanweë die hoë voedingsbehoefte, is bemesting die grootste inset (en derhalwe insetkoste) per hektaar, gevolg deur moere, brandstof en chemikalieë vir oesbeskerming.

Soos die koste van bemesting verhoog, is dit nodig dat daar veral gefokus word op winsgewende produksie asook oplossings om insette soos bemesting meer effektief te gebruik. ’n Belangrike metode wat oorweeg kan word om insetkostes te beperk, is die gebruik van presisieboerderypraktyke.

Grondklassifikasie

Die eerste stap in presisieboerdery is gewoonlik (en dit word aanbeveel) die klassifisering van die grond se fisiese eienskappe, aangesien dit aan die produsent ’n bloudruk van die grond verskaf wat as basis vir gewasverbouing dien. Met grondklassifikasie kan die volgende vasgestel word:

  • Fisiese beperkings in die grond
  • Dreineringsvereistes, indien enige
  • Besproeiingskedulering
  • Gepaste grondbewerkingsmetodes vir grondtipe(s)
  • Die potensiaal vir aartappelverbouing
  • Verskillende grondbestuursones

Grondchemiese ontleding

Na klassifikasie van die grond is dit belangrik om die voedingstowwe/elemente in die grond (chemiese samestelling) te meet en te analiseer. Grondmonsters word geneem volgens ’n gepaste “grid” patroon (byvoorbeeld ’n 1 ha grid) om die status van die grond te bepaal. Daar kan dan vasgestel word of grondregstellings benodig word om die pH en elementverhoudings te verbeter of reg te stel. Die resultate word ook gebruik as basis vir ’n voorgestelde bemestingsprogram. Die program neem in ag die kleipersentasie, katioonuitruilkapasiteit (KUK) en element konsentrasies in die gronde, om sodoende te kan vasstel watter elemente addisioneel toegedien moet word vir optimale produksie.

Koolhidraatontledings

Koolhidrate is die energieboublok van alle groeiprosesse in ’n plant. Suikers, wat as produk van fotosintese in die blare teenwoordig is, word vervoer na groeiende plantorgane en is verantwoordelik vir die verskaffing van koolstof en energie aan die organe. Elkeen van hierdie organe is afhanklik van suikers vir groei. Daarom is die meet en manipulasie van die plant se koolhidraatstatus van kritiese belang om opbrengs en winste te optimaliseer. Agri Technovation se ITEST™ CARBOHYDRATE-ontleding maak dit nou moontlik om koolhidraatstatus van blare en wortels akkuraat te meet en deurlopend te moniteer. Hierdie ontleding is ook vir aartappels beskikbaar. 

Die koolhidraatvlakke van die blare en wortels word deurlopend gemeet en gemoniteer tydens kritiese fisiologiese stadiums en word ondersteun deur kundige aanbevelings van landboukundiges wat die korrekte aanbevelings maak op grond van die betroubare data. Dit verseker dat die nodige aanpassings vroegtydig gemaak kan word ten einde hoë kwaliteit en goeie opbrengste te bepaal.

Grondgesondheidsontledings 

Saam met grondchemiese ontledings, is dit ook van groot nut om grondgesondheidsanalises soos ITEST™MICROLIFE te doen ten einde die grond se gesondheid, asook die teenwoordigheid van grondpatogene, vas te stel. Aangesien aartappels baie sensitief is vir ’n verskeidenheid grondgedraagde siektes, is dit noodsaaklik om die nodige voorsorgmaatreëls te tref sodat mikrobiese aktiwiteit en diversiteit so hoog as moontlik is en gehou word. 

PPM™ iets anders as grondgesondheidsontleding 

Aangesien aartappels oor ’n kort periode ’n beduidende hoeveelheid droë materiaal akkumuleer, kan pesinfestasie ook ’n groot invloed op opbrengs hê. Dit is dus noodsaaklik dat peste en plae na opkoms van die gewas weekliks gemoniteer word. Dit kan gedoen word met die hulp van ’n pesmoniteringsdiens soos PPM™ om seker te maak die aartappels is en bly vry van peste.

Satellietbeelde 

Satelliet-tegnologie speel al hoe meer ’n fundamentele rol by aartappelproduksie, aangesien dit ’n baie gesofistikeerde oplossing aan insetverskaffers en produsente bied om verskille tussen en stress op produksie-areas tydig waar te neem. 

Tydige waarneming maak dit moontlik om effektief en tydig op te tree. Deur die Airbus VERDE™-diens word satellietbeelde vir hierdie doel aan verskaffers en produsente beskikbaar gemaak. Hierdie beelde word gebruik om oesskattings te verbeter deur die aantal dae waartydens die vegetatiewe indeks bo ’n drempelwaarde is, te tel. Sodoende kan geverifieer word of die bemestingsprogram ooreenkomstig die sterkte van die stand en klimaatsomstandighede aangepas moet word. Insetkostes kan sodoende dus meer effektief bestuur word.

Optimale aartappelproduksie wel moontlik 

Agri Technovation, tesame met Laeveld Agrochem, beskik oor die nodige kennis en ervaring oor die presisiedienste wat toegepas kan word om aartappelverbouing meer effektief en winsgewend te maak. Met die toepassing van hierdie dienste kan hoë kwaliteit aartappels geproduseer word en insetkostes geminimaliseer (effektief bestuur) word, vir optimale verbouing van hierdie gesogte gewas