Avocado-tree-3

Nuwe tegnologie bewerkstellig ’n beter ewewig tussen oeste

-Media Verklaring vir onmiddellike vrystelling

Daar is ʼn nuwe tegnologie wat ’n groot opskudding onder uitvoer-vrugteprodusente veroorsaak. Dié baanbreker-innovasie monitor die koolhidraatstatus van ʼn vrugteboom, wat, indien nodig, tydige korrektiewe optrede moontlik maak om ʼn optimale oes te verseker.

Dié tegnologie – ontwikkel deur die vooraanstaande globale landboumaatskappy Agri Technovation en wat as ITEST™ CARBOHYDRATES bemark word – is veral doeltreffend om alternerende drag aan te spreek wat ʼn groter ewewig tussen jaarlikse oeste help bewerkstellig. Dit gee aanleiding tot verhoogde opbrengste oor tyd, en werk “af-jare” teen.

Alternerende drag (ook bekend as tweejaarlikse of ongelyke drag) – die tendens wat voorkom onder bome wat die een jaar ’n swaar opbrengs (“aan-opbrengs”) lewer, gevolg deur ʼn ligte of geen opbrengs (“af-opbrengs”) die volgende jaar – is ʼn algemene probleem by die kweek van baie soorte vrugte en neute, en sommige, soos avokado’s, wat groot verbruikers van koolhidrate is, word meer daardeur geraak.

Volgens Erik de Vries, Agri Technovation se mede-uitvoerende hoof, is die sukses van die nuwe hulpmiddel reeds in die sitrusbedryf bewys. Dít is onlangs na die avokadobedryf uitgebrei en sal binnekort vir appels, makadamias, amandels, pekanneute, wingerd en mango’s uitgerol word.

Soveel as 20 verskillende gewasse gebruik moontlik binnekort die ontledingsprogram
“Ons kyk na bykans 20 verskillende gewasse en het reeds goeie vordering met ongeveer 14 gemaak. Dié tegnologie is die afgelope twee jaar suksesvol in die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf geïmplementeer en die ontledingsprogram is reeds tot op kultivarvlak ontwikkel. Die sitrusprogram word ook verfyn om gebiedspesifiek te wees, wat verskillende klimate in ag neem.”

Lande wat reeds aan boord gekom het deur sitrus- en avokadomonsters na Agri Technovation se analitiese fasiliteit in Wellington te stuur, sluit in Amerika, Australië, Nieu-Seeland, Argentinië, Peru, Marokko, Zambië en Zimbabwe. Mexiko, Chili en Spanje toon ook belangstelling en die beplanning vir die ontvangs van hul monsters het reeds begin. Vir die ontwikkeling van nuwe gewasse word daar eers verskeie monsters vir elke groeigebied ontleed, waarna norme ontwikkel en ordentlik getoets word voordat dit kommersieel uitgerol word, eers op gewasvlak en uiteindelik op kultivarvlak.

ITEST™ CARBOHYDRATES maak tydige toepassing van bestuurspraktyke moontlik
In ʼn neutedop: Die ITEST™ CARBOHYDRATES ontledingsprogram maak dit moontlik om suiker- en styselkonsentrasies in blare en wortels tydens kritieke fenologiese stadiums gedurende die seisoen te monitor. Dit behels die roetine-analise van boomwortels en -blare, wat dan vergelyk word met ʼn norm vir suiker, stysel en die totale koolhidraatvlakke vir die verskillende fenologiese stadiums van die plant. Enige afwyking van die norm maak voorsiening vir die tydige ontwikkeling van bestuurspraktyke, soos snoei, boordmanipulasie en voedingsprogramme, wat produsente uiteindelik sal help om optimale plantgroei en goeie jaarlikse produksie te verseker.

Koolhidrate speel ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van blomme, die groei van boomorgane (soos wortels en vegetatiewe lote), die voltooiing van vrugset en verhoogde vruggroei. Dit is belangrik vir eenjarige en meerjarige plante soos sitrus, avokado’s, neute en sagte vrugte, insluitende appels, pere, druiwe, kersies, nektariens, appelkose, perskes en pruime.

Meer konstante vloei van produkte na verbruikersmark; verminder risiko vir boere
“Ek is daarvan oortuig dat dit ʼn revolusionêre deurbraak vir die landbou is. In effek laat die energiestatus-inligting wat uit die ontledingsprogram verkry word ons toe om ʼn prentjie te skets van wat in die volgende maand of twee in die plant of boom gaan gebeur. Dít stel ons weer in staat om, indien nodig, proaktief op te tree in die toepassing van korrektiewe bestuurspraktyke. Die eindresultaat is ʼn meer konstante voorsiening van produkte aan die mark, wat nie net voordelig vir die verbruiker is nie, maar ook die risiko’s vir veral produsente sal verminder. Dít kan tot verhoogde inkomstestrome en stewiger balansstate vir boere aanleiding gee.”

Volgens Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur by Laeveld Agrochem (ʼn vennoot van Agri Technovation), is die ontledingsprogram suksesvol in die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf – die tweede grootste uitvoerder ter wêreld – bekendgestel met alle verwagtinge wat oortref is.

Deurbraak vir die landboubedryf
“Meeste sitrusboere wil aan boord kom, want dit is een van die min, indien nie die enigste, metodes waarmee tydige aanpassings gemaak kan word wat ʼn beduidende impak op opbrengs kan hê. Die metodologie wat deur ITEST™ CARBOHYDRATES gebruik word, is die eerste in die wêreld en is reeds gesog in lande soos Amerika, Spanje en Australië,” sê Liebenberg.

“Dit is ʼn deurbraak vir die landboubedryf. Tot dusver was daar nie rêrig ʼn manier om die probleem van aan- en af-seisoene te takel nie. Tot op hede is daar grootliks reaktief op gebeure gereageer. Maar nóú laat Agri Technovation se nuwe intellektuele eiendom vrugteprodusente toe om in die toekoms in te kyk na hoe hul vrugte- en neutbome sal produseer en dan proaktief op te tree om ʼn produktiewe oes in die volgende seisoen te verseker. Die eindresultaat is groter en winsgewender oeste, en verhoogde buitelandse inkomste uit uitvoere. Dit lei natuurlik ook tot meer werkgeleenthede vir die land,” sluit Liebenberg af.