Meet verstaan verbeter

Meet, verstaan, verbeter – PICKLOGGER™ en MYSOIL CLASSIFICATION™

Geskryf deur:  Marnus Ferreira, Hoof van Grondkunde
PICKLOGGER™ en MYSOIL CLASSIFICATION™

Hierdie artikel fokus op drie aksies of konsepte soos in die titel uiteengesit: meet, verstaan en verbeter. Saam vorm hierdie drie aksies die beste metode huidig beskikbaar om opbrengs betekenisvol te verbeter, veral in ’n boerdery wat reeds goed presteer. Dit gee die produsent die vermoë om die basiese praktyke so goed as moontlik toe te pas.

Met gewaspryse wat al hoe meer onder druk is vanweë sosio-ekonomiese kwessies, bly die gedugte kombinasie van goeie opbrengste en kwaliteit die kern van ’n volhoubare boerdery en die 3-aksie metode kan hier verseker help.

Meet
Die meting van opbrengs by vrugte was tot onlangs beperk tot blok- of boordvlak, maar was nie naastenby so akkuraat en insiggewend soos opbrengskaarte wat deur graanstropers geproduseer word nie. Dit het natuurlik verander met die kommersialisering van die vindingryke PICKLOGGER™-toestel, wat die prys vir innovasie by die onlangse Biostimulants World Congress in Miami, VSA ingepalm het. Met hierdie toestel word opbrengskaarte tot op boomvlak geproduseer en dit is reeds kommersieel beskikbaar vir sitrus, avokadopere, tafeldruiwe/wingerd, appels, pere en nou selfs waatlemoen, spanspekke ensovoorts.

Hierdie presisietegnologie skep vir die eerste keer in die geskiedenis die vermoë om sekere permanente gewasse se opbrengs akkuraat en op ’n kommersiële vlak te meet. Met hierdie kaarte kan daar presies gesien word hoe opbrengs binne boorde varieer.

Figuur 1 is ’n voorbeeld van sagte sitrus opbrengsdata wat deur die PICKLOGGER™-toestel gegenereer is. Wat duidelik sigbaar is, is dat daar areas in die blok is wat ’n aansienlike laer opbrengs lewer, veral in die oostelike area. Die opbrengsverdeling strek van 0 – 18 t/ha tot 130 – 165 t/ha. Wat kenmerkend van hierdie tipe data is, is dat daar (gebaseer op meerjarige data) herhaaldelik areas in die blok is wat hoog produseer en areas wat laag produseer.

Dus, die gemiddelde opbrengs van die blok is dalk 75 t/ha, maar die variasie is massief. Ongeveer 49% van die blok lewer onder 50 t/ha en ±10% bo 100 t/ha. Die identifisering en ondersoek van hierdie variërende areas (deur te meet) is die eerste betekenisvolle stap om die gemiddeld van die blok te lig. Deur slegs die produksie van die swakker areas te lig met 10 t/ha (wat maklik sou wees indien die probleem geïdentifiseer is) kan die gemiddeld van die blok met ten minste 5 t/ha styg.

Verstaan
Dit is alombekend dat besproeiing tot ±70% van produksie kan bepaal. Alhoewel daar besproei word om genoegsame vog in die plant te handhaaf, is dit hoofsaaklik die grond en klimaat wat bepaal hoe daardie vog toegedien moet word in terme van besproeiingspraktyke en strategie. In ’n baie vlak sanderige en klipperige grond gaan die besproeiingspraktyk wat vir ’n diep leemgrond gebruik word, nie noodwendig suksesvol wees nie.

Ten einde vog op só ’n manier toe te dien dat dit plantopneembaar is, moet die fisiese eienskappe van die grond eers deeglik verstaan word.

Agri Technovation se MYSOIL CLASSIFICATION™- diens is hier die antwoord. Dit ontsluit die eienskappe van die grond wat bepalend is vir die beste besproeiingspraktyk en strategie. 

Figuur 1, 2 en 3 illustreer duidelik hoe die grondtipe die produksie van die gewas direk beïnvloed – onder andere as gevolg van die gekose besproeiingspraktyk.

Let spesifiek op na die oostelike areas van die blok, waar die laer opbrengsarea (Figuur 1) korreleer met die teenwoordigheid van 3 ander grondtipes (pienk, bruin en donkergroen in Figuur 2) wat vlakker is en dus maklik oorbesproei kan word. Tekens van natheid verteenwoordig sigbare reduserende toestande in die grond (suurstofarm).

Figuur 3 dui areas in die blok aan waar hierdie tekens geïdentifiseer is. Areas in donkergroen gemerk het geen sigbare tekens nie, waar ligter groen tot geel die areas aandui waar tekens van natheid wel opgemerk is.

Uit hierdie ondersoek is dit duidelik dat die dieper grond (ligter groen in Figuur 2) wel korrek besproei word wat lei tot goeie produksie. Die vlakker gronde in die ooste van die blok toon egter reeds tekens van natheid – in ’n area waar reënval laag is – en ontvang dus meer water as wat die gronde kan stoor, wat lei tot suurstofarm toestande.

Sonder suurstof in die profiel kan wortels nie respireer nie en word die plant se primêre funksies daardeur belemmer. Indien die gekose besproeiingspraktyk aanleiding gee tot lang periodes van beide water- en/of suurstofarme toestande in die grond (en dit hou sterk verband met die grond se fisiese eienskappe), gaan produksie negatief beïnvloed word. Om net hierdie een aspek reg uit te voer is ±70% van die sukses. Hoekom sal jy dit nie doen nie?

Verbeter
Met enige betekenisvolle dataversameling is die geleentheid daar om veranderinge te maak. Dit is immers hoekom ons meet, om te kan verstaan wat realisties is in terme van opbrengs, om sodoende planne te implementeer wat daarop gerig is om produksie te verbeter.

Noudat die probleem duidelik vasgestel is, kan oplossings geïmplementeer word. Die ideale stap hier sal wees om die westelike dieper grond en oostelike vlakker grond apart te besproei/ bestuur. Soms verg dit dat besproeiingslyne geskei word, maar dit kan so eenvoudig wees as om laer-lewerende koppe op te sit in die oostelike area (mits dit mikro’s is), of elke tweede/derde drupper te blok, ensovoorts.

Verder kan skedulering aangepas word tot ’n pols-strategie, waar kleiner hoeveelhede water meer gereeld toegedien word. Dit gaan goed gepaard met die toediening van ’n deklaag, wat vlakker wortelontwikkeling stimuleer en sodoende die wortelmassa nader aan die oppervlakte dryf, uit die nat ongunstige ondergrond uit.

Hierdie is relatiewe klein stappe om te neem, maar kan groot resultate tot gevolg hê. Deur die produksie te meet (met PICKLOGGER™) en die probleem te verstaan (MYSOIL CLASSIFICATION™) kan die oplossing geïmplementeer en produksie verbeter word.