Effektiewe waterbestuursplan

Laat jou goggas vir jou boer!

Deur André Strauss
Senior Mikrobioloog: MICROLIFE™ Research Center
Agri Technovation

Die MICROLIFE™ RESEARCH CENTRE is Agri Technovation se mikrobiologiese laboratorium wat in Wellington, Wes-Kaap, gebaseer is. Hierdie laboratorium het ten doel om die grondgesondheid van landbougrond asook die mikrobiese lewe en diversiteit teenwoordig in die grond, te meet.
Agri Technovation volg ’n holistiese benadering tot plantgroei/gewasproduksie, waar daar in diepte gefokus word op die fisiese, chemiese asook die biologiese eienskappe van die grond.
Hierdie biologiese eienskappe sluit in die grond se organiese materiaal inhoud, mikrobiese aktiwiteit en mikrobiese diversiteit, allesomvattend verwys na as grondgesondheid.
Grondgesondheid as sulks is nie meer vandag ’n onbekende term in die landboubedryf nie,
maar die uitdaging lê eerder in die meet van die grondgesondheid en om daarvolgens dan praktiese en wetenskaplike aanbevelings te maak om die grondgesondheid te verbeter.
Grondmikrobes dien as waardevolle indikators van grondgesondheid as gevolg van die belangrike funksies wat hulle in die grond verrig en waardeur plante voordeel trek. Hierdie mikrobiese funksies dra almal by tot die grond se vrugbaarheid en gesondheid en sluit onder andere in voedingstof hersirkulering, aggregaatvorming, weerstandigheid teen grondpatogene en waterinfiltrasietempo. Dus, deur hierdie grondmikrobes se aktiwiteit en funksies te bestudeer, word waardevolle inligting oor die grond se gesondheid verkry.

ITEST™ MICROLIFE
Alhoewel grondmikrobes veelvoudige funksies in die grond verrig, fokus die ITEST™ MICROLIFE ontleding hoofsaaklik op die funksies wat ’n beduidende invloed en bydrae lewer tot verbeterde voedingsopname deur plantese wortels. ’n Holistiese benadering (ontleding van verskeie funksies) word dus gevolg met die uitsonderlike doel om wortelgesondheid te verbeter, asook om beter voedingstofopname te bewerkstellig, om sodoende plantgroei en opbrengste te verbeter. Hierdie toetse kan deur boere gebruik word om die impak van ’n spesifieke landboukundige praktyk te meet, en ook hoe hierdie praktyk die mikrobes se aktiwiteit en diversiteit beïnvloed, met die groter doel om die grond se gesondheid en volhoubaarheid te bepaal en te verbeter. Die gevolglike veranderinge in biologiese status kan as vroeë aanwysers van agteruitgang/verbetering van grondgesondheid gebruik word.

ITEST™ MICROLIFE analise en voorbeelde
Die ITEST™ MICROLIFE ontleding ten einde grondgesondheid te bepaal, is gebaseer op drie bene, en sluit agt verskillende ontledings in.
Die drie bene is:
1. organiese fraksie wat teenwoordig is in die grond;
2. die mikrobiese aktiwiteit wat plaasvind in die grond; en
3. die mikrobiese diversiteit (spesierykheid en gelykheid) van die grond.
Deur hierdie drie bene saam te interpreteer, kan verslag gedoen word of daar gunstige
omstandighede in die grond heers vir mikrobiese lewe en of hierdie mikrobes genoeg kos tot hul beskikking het. Daar word ook verslag gedoen of die mikrobes aktief is en of funksies verrig word tot voordeel van die plant se groei.
Laastens, word daar verslag gedoen op hoeveel verskillende soorte mikrobes (divers) daar in die grond teenwoordig is. Bogenoemde bene word aan die hand van voorbeelde verder verduidelik.

Voorbeeld 1: Organiese fraksie teenwoordig in die grond
Die basis van enige grond se gesondheid (en ook die eerste been van die verslag), is die organiese fraksie wat beskikbaar is in die grond. Daar word spesifiek gekyk na die grond-organiese materiaal (GOM), grond-organiese koolstof en aktiewe koolstof wat teenwoordig is in die grond.
Die GOM verteenwoordig koolstof-bevattende materiaal afkomstig van lewende en dooie/ ontbindende plantmateriaal en grondmikrobes. Dit dien as bron van voedingstowwe wat afgebreek word na ’n plantbeskikbare vorm. Grondorganiese materiaal verbeter ook die grond se struktuur en skep ’n sponsagtige effek in die grond wat sodoende waterinfiltrasie en die waterhoudingsvermoë van die grond bevorder. Die GOM kan gesien word as die fondasie van ’n gebou. Grond-organiese koolstof verteenwoordig die hoof-komponent van GOM. Dit dui die suiwerheid en kwaliteit van die grond-organiese materiaal aan, aangesien die koolstofkettings die ruggraat van die GOM vorm.Die grond-organiese koolstof kan gesien word as die mure en pilare van ’n gebou. Aktiewe koolstof verwys na die klein fraksie van grondorganiese koolstof wat beskikbaar is as bron van voedsel en energie vir grondmikrobes. Dit tree basies op as die hoof-voedselbron van die mikrobes (vleis, rys en aartappels van die mikrobes). ’n Voorbeeld van aktiewe koolstof is fulviensuur. Hierdie molekules help met die opname van voedingstowwe deur die wortels van plante en beperk ook loging van voedingstowwe deurdat dit voedingstowwe vasvang sodat dit in die grond behoue bly. Die aktiewe koolstof kan gesien word as die toerusting in die verskillende kamers in die gebou.
In hierdie voorbeeld (Figuur 1) is een monster geneem op ’n land waar geen grondbewerking uitgevoer is nie, terwyl die tweede monster geneem is op ’n land waar konvensionele grondbewerkingspraktyke uitgevoer is. ’n Goeie gekomposteerde komposmonster word ook aangetoon om die potensiaal van ideale omstandighede aan te dui. 

Voorbeeld 2: Mikrobiese aktiwiteit wat in grond plaasvind.
Nadat die basis van die grondgesondheid vasgestel is (been 1), word daar verslag gedoen op drie noodsaaklike mikrobiese funksies (aktiwiteite) wat belangrik is vir vrugbare grond.

Hierdie funksies sluit in die afbreek van koolstof (DebriDeg), stikstof (UrAc) en fosfaat (AlkPac/AcPac) vanuit ’n organiese vorm na ’n anorganiese vorm wat deur plante opgeneem kan word en so bydra tot plantvoeding. Hierdie funksies kan vergelyk word met die dokters in die hospitaal en hoe hard en produktief hulle werk.
In Figuur 2 word die mineraliseringstempo aangedui van stikstof uit ’n organiese vorm (soos ureum) na ’n anorganiese vorm (soos ammonium). Ureum kan nie deur plantwortels opgeneem word nie – die plant kan dus nie die stikstof benut wat in ureum vasgelê is nie. Mikrobes is in staat om hierdie stikstof af te breek na ammonium wat wel deur plantwortels opgeneem kan word, ’n proses bekend as mineralisasie. Hierdie ontleding is ’n handige toets om vas te stel of ureum ’n geskikte bron van stikstof is op ’n spesifieke grond.

Voorbeeld 3: Mikrobiese diversiteit.
Die derde been van die ITEST™ MICROLIFE analise, is om die mikrobiese diversiteit wat teenwoordig is in die grond te bepaal deur die mikrobiese rykheid en gelykheid te ontleed (Figuur 3). Mikrobiese rykheid is ’n aanduiding van die aantal verskillende tipes mikrobes wat in die grond teenwoordig is, terwyl mikrobiese gelykheid ’n aanduiding gee van die verhouding van die verskillende tipes mikrobes tot mekaar, binne die mikrobiese gemeenskap (m.a.w. ’n aanduiding van dominansie of harmonie). Dit verskaf ’n aanduiding van die verskeidenheid funksies wat deur mikrobes in die grond verrig kan word. ’n Groter diversiteit beteken dat meer funksies gelyktydig in die grondomgewing verrig kan word om in die plant se behoeftes te voorsien en grondgesondheid te verbeter. Mikrobiese diversiteit kan gesien word as die spesialiste teenwoordig in die hospitaal. Deur meer verskillende soorte spesialiste teenwoordig te hê, kan meer verskillende operasies uitgevoer word. Dit dra weer by tot ’n sisteem wat ’n groot aantal funksies kan verrig en die grond meer tolerant maak teen ’n groot verskeidenheid abiotiese en biotiese stresomstandighede.

Die resultate in Figuur 3 suggereer of toon dat die meganiese versteuring van die grond (wat spesifiek hier toegepas was), tot ’n afname in organiese materiaal lei. Let wel, meganiese versteuring is dus wel belangrik in sommige gevalle soos waar grondkompaksie voorkom en by grondlae wat gebreek moet word. Daaropvolgens, met hierdie verlaagde organiese materiaal, neem die mikrobiese aktiwiteit af wat veroorsaak dat minder groepe en getalle mikrobes in die grond kan oorleef. Dit lei weer tot ’n verlaagde diversiteit, wat weer die grond se weerstandigheid en verdraagsaamheid teen biotiese (grondpatogene) en abiotiese (droogte) stresomstandighede verlaag.

Ten spyte van meganiese grondversteuring, is hierdie toetse steeds baie handig om die algemene grondgesondheid reg deur die seisoen te bepaal, om verskillende produkte/programme se werking te meet, die vestiging van nuwe boorde/lande, die oorwerk van vrugtebome en chemiese grondversteuring soos die gebruik van swamdoders.

Agri Technovation het biologiese produkte geformuleer om elkeen van hierdie ontledings in jou grond aan te spreek sodat ’n gunstige omgewing geskep word vir die mikrobes, waarbinne hulle optimaal kan funksioneer.