Screenshot 2025-04-07 at 10.50.06

Invoortoedienings en waterstres: Sukses in die Swartland

Nicola Kotzé, Senior Agronoom Schalk du Plessis, Senior Grondkundige

 

Hoe en waarom invoortoedienings?

In hierdie artikel word invoortoedienings na verwys as die praktyk waar biostimulante met of sonder voedingselemente in ’n vloeibare vorm op die saad of naby die saad toegedien word. Die algemene praktyk is om ongeveer 100 L water per hektaar neer te sit wat as draer dien van die gekose produk. Planters is oor die algemeen toegerus met watertenks en spuite wat aangewend word om vooropkomsonkruiddoders toe te dien, maar produsente het begin om die spuite af te haal en bestaande tenks eerder te gebruik vir die toediening van invoorprodukte.

Verskeie voordele is reeds waargeneem deur die Agri Technovation-landboukundiges en die produsente wat invoortoedienings tot op hede gebruik het. Met die fokus spesifiek op die produksie van wintergrane in die Swartland, word invoortoedienings geag ’n kosteeffektiewe manier te wees om die produsent se uitdagings met betrekking tot waterstres effektief aan te spreek.

 

Voordele

Die voordele wat reeds opgemerk en behaal is sluit onder andere die volgende in:

  • Verhoogde ontkiemingspersentasie;
  • Versnelde tempo waarteen ontkieming plaasvind;
  • Stimuleer goeie wortelontwikkeling;
  • Verskaf plant-noodsaaklike voedingselemente; 
  • Voorsien essensiële nutriënte aan mikroörganismes; en 
  • Werklike opbrengs op belegging (verskil van kliënt tot kliënt).

Invoortoegediende produkte lei tot beter asook vinniger ontkieming. Deur die ontkiemingspersentasie te verhoog en die proses te versnel kan die gewas beter vaar teen onkruid en peste wat die saailinge aanval. Dit is veral ’n groot voordeel by kanolaproduksie waar produsente dikwels klei trap om ’n goeie stand te kry, gegewe die klein saadjie wat gevolglik min reserwes het.

Invoortoedienings bied ook ’n werklike geleentheid om grondgesondheid aan te spreek met die inkorporering van organiese produkte wat aktiewe vorms van koolstof bevat. Hierdie aktiewe vorms van koolstof bied die energie vir mikroörganismes om verdere kritieke nutriënte soos fosfaat (P) en stikstof (N) meer plant-beskikbaar te maak tydens die groeiseisoen, wat weer lei tot die ontwikkeling van ʼn algeheel gesonder plant (Rose, et al., 2014).

Koring het ’n bepaalde groeiwyse en die gewaspotensiaal word bepaal tydens stoelfase. ’n Sink-tekort (Zn) tydens hierdie fase verlaag die potensiaal van die plant en vanweë die groeiwyse van koring, kan die potensiaal nie later gedurende die plant se leeftyd aangespreek of verbeter word nie. Daar kan bloot gewerk word om die potensiaal te verwesenlik, nie om dit opwaarts aan te pas nie. Met invoortoedienings egter, het die produsent die geleentheid om mikro-elemente soos Zn gemaklik aan te vul in genoegsame hoeveelhede en saam met die saad te plaas tydens plant, waar dit ’n direkte invloed het op plantprosesse en gevolglik opbrengs.

Dus, met die gebruik van invoortoedienings hoef die produsent nie later mikro-elemente saam met onkruiddoders te spuit nie. Dit blyk ’n verdere voordeel te wees aangesien baie formulasies nog nie getoets is nie en die moontlike antagonismes en onsekerhede daarvan so vermy word.

 

Is daar nadele?

Met invoortoedienings word vooropkoms onkruiddoders met ’n aparte aksie gespuit, wat deur sommige as ’n nadeel beskou kan word. ’n Groot hoeveelheid produsente egter, maak in elk geval gebruik van aparte spuitaksies vanweë die feit dat moderne spuite dubbel toedienings tot ’n groot mate kan uitskakel met seksiebeheer. Daar is ’n koste verbonde aan die aanvanklike modifikasie van die planter ten einde invoortoedienings te kan neersit. Dit behels slegs ’n modifikasie en nie ’n totale vervanging of “ombou” van die plantmeganisme nie. Soos genoem het produsente wat invoortoedienings gebruik reeds werklike opbrengste op beleggings behaal. Dus, alhoewel sekere nadele wel uitgelig kan word, is dit duidelik dat die voordele wat deur die invoortoedienings behaal kan word, die nadele daaraan verbonde oortref.

 

Die uitdaging by wintergrane

Waterstres

Invoortoedienings daarop gemik om wortelstelselgroei te stimuleer blyk baie effektief te wees om die nadelige impak van waterstres by wintergrane aan te spreek. Wintergraanproduksie vind hoofsaaklik plaas onder droëland-toestande wat deurgaans groot risiko vir produsente inhou. Die volgende scenario rakende waterstres wat hom dikwels in die Wes-Kaap afspeel dien as voorbeeld. Wanneer die plante nog vegetatief is, is daar genoeg vog en soms ook te veel vog teenwoordig. Gedurende die tyd wanneer die plante reproduktief raak vind sporadiese reënval dikwels plaas, wat in baie gevalle na ’n kort rukkie weer drasties afneem en die plant onder waterstres plaas.

Hoe groter die wortel:biomassa-verhouding, hoe beter is die plant se vermoë om waterstres te hanteer (Kalra, et al., 2023). Die plant in genoemde voorbeeld se wortelstelsel is egter op daardie stadium nog swak ontwikkel en kan nie vinnig genoeg aanpas by die veranderende klimaat nie. Daar is wel bevind dat die inkorporering van organiese sure en sekere kelpe die ontwikkeling van ’n groter wortelsisteem stimuleer wat die plant in staat stel om hierdie onvoorsiene omgewingsfaktore beter te weerstaan (Sible, et al., 2021), wat algehele produksie in die Wes-Kaap se uitdagende klimaat verhoog.

 

Drastiese klimaatsverskille per area

Gedurende die 2024-seisoen het die droëland- streke droog begin tydens die planttyd en die gewasse het eers in Junie ontkiem en begin groei. Junie, Julie en Augustus was egter baie nat, waarna die reën in die Swartland drasties afgeneem het. Hoë temperature en wind het die vogstatus vinnig verander na kritiek terwyl areas in die Suid-Kaap meer verspreide reën ervaar het, wat gebiede in staat gestel het om die grondvogstatus beter te bestuur. Dieselfde produksiejaar dus, maar met drastiese verskille in die onderskeie streke in terme van waterstres.

 

Impak van invoortoedienings waargeneem in die Swartland (2024)

Twee afsonderlike proewe is gedurende 2024 deur Agri Technovation in die Swartland gedoen om die impak van invoortoegediende produkte (RELEASE LPH™ en ’n geselekteerde voorskrifmengsel) waar te neem. Die impak van die produkte is elk in ’n afsonderlike proef teenoor ’n kontrole waargeneem. Die proewe sal in die 2025 produksie jaar in die Suid-Kaap herhaal word.

RELEASE LPH™ is geformuleer met 3 verskillende seewierspesies, elk van verskillende geografiese herkoms. Die produk het ’n besondere hoë ouksien tot sitokinien-verhouding en bevat ook ander organiese sure.

Die voorskrifmengsel is enkel spesie seewierekstrak wat ’n effens laer ouksien tot sitokinienverhouding het.

 

Impak van toedienings in die Swartland

Die toediening van RELEASE LPH™ het uitstekende resultate gelewer, terwyl die voorskrifmengsel effens swakker presteer het, maar wel beter as die kontrole.

 

RELEASE LPH™ (PROEF 1)

Opbrengsverskille van 400 kg/ha is behaal tesame met ’n verhoging van 1,8 kg/hl hektolitermassa.

VOORSKRIFMENGSEL (PROEF 2)

Die voorskrifmengsel-stimulantbasis het in die Swartland ’n 120 kg/ha verhoging gegee.

 

Beduidende verskille in plantpopulasie is ook waargeneem met die verskillende produkte. ’n Verhoging in stand van 13,7% is in koring en tot 28% in kanola waargeneem.

 

Opbrengs op belegging (OOB) Met die huidige koringpryse kry produsente ongeveer R5 000 per ton in die sak na die vervoerdifferensiaal afgetrek is. Toegepas op Proef 1, waar ’n opbrengsverskil van 400 kg per ha behaal is, het die produsent ongeveer R2 000 per ha addisioneel in die sak gehad, wat verreken kan word tot ’n opbrengs op belegging van R10 vir elke R1 spandeer.

Dit is belangrik om te noem dat die OOB tot dusver behaal verskil tussen produsente. Die spesifieke OOB behaal in Proef 1 kan dus ook nie beskou word as ’n algemene gewaarborgde OOB met die gebruik van die spesifieke produk nie.

 

Ten slotte

Invoortoedienings bied verskeie voordele aan produsente, waar die impak van sodanige toedienings beproef en waargeneem is in die Swartland in 2024 en beduidende resultate behaal is. Dit word as ’n koste-effektiewe manier geag om die produsent se risiko te verminder in toestande van waterstres en sporadiese reënval. Plante met groter wortelstelsels is bloot meer gehard in enige toestande. ’n Verbeterde wortelstelsel stel die plant in staat om beter weerstand te bied teen waterstres, en met die uitstekende resultate gelewer in die Swartland, bied RELEASE LPH™ aan produsente die geleentheid om waterstres meer effektief te bestuur en dus beter opbrengste te behaal, tesame met die vooruitsig van ’n werklike opbrengs op belegging.

 

Verwysings:

1. Kalra, A., Goel, S. & Elias, A., 2023. Understanding role of roots in plant response to drought: Way forward to climate-resilient crops. The Plant Genome, Issue 17.

2. Rose, M. T. et al., 2014. A meta-analysis and review of plant-growth response to humic substances: Practical implications for agriculture. Advances in agronomy, Volume 124, pp. 37-89.

3. Sible, C. N., Seebauer, J. R. & Below, F. E., 2021. Plant Biostimulants: A Categorical Review, Their Implications for Row Crop Production, and Relation to Soil Health Indicators. Agronomy, 11(7), p. 1297.