Grond

Bou jou grondlegkaart en ontgin die volle potensiaal van die grond

Bou jou grondlegkaart en ontgin die volle potensiaal van die grond

deur Schalk du Plessis, Senior Grondkundige en Coenraad Janse van Rensburg, Datawetenskaplike

Ontsluit die volle potensiaal van grond

Agri Technovation het plaaslik en op internasionale vlak reeds groot sukses behaal met grondpresisiedienste. Met die ITEST™SOIL- en MYSOIL CLASSIFICATION™-dienste is menige produsent in staat gestel om grondvariasie te identifiseer en ingeligte bestuurspraktyke daarvolgens toe te pas. Afgesien van die korrekte identifisering en bestuur van hierdie variërende grondeienskappe, het produsente ook ʼn toename in algehele gewasproduksie en winsgewendheid op plaasvlak gehad.

Ofskoon die waardetoevoeging aan die produsente beduidend is, is dit nie waar dit stop nie. Daar is verdere metodes beskikbaar wat gevolg kan word ten einde die volle potensiaal (dus verdere waardetoevoeging) van die grond te ontgin.

Deur stroperkaarte en PICKLOGGER™– opbrengskaarte te integreer met genoemde presisiedienste, kan die basiese presisiebeginsels verhef word tot ʼn nuwe vlak. Deur die data van meerjarige opbrengskaarte te kombineer met grondfisiese en grondchemiese data, word ʼn nuwe wêreld van inligting ontsluit. Die bestudering van gewasopbrengsreaksies op grondeienskappe maak dit moontlik om bestuurspraktyke op plaasvlak aan te pas, te verfyn en sodoende te verbeter. Hierdie verdere verbetering word moontlik gemaak met die MYDATA MINING™-diens wat deur Agri Technovation aangebied word.

Grondpotensiaal as ʼn legkaart

Grondpotensiaal kan gesien word as ʼn legkaart waar elke legkaartdeeltjie ʼn grondeienskap wat gewasproduksie affekteer, verteenwoordig. Ten einde die legkaart te bou, is dit natuurlik van belang om al die deeltjies in die hand te hê. Die volle prentjie kan egter slegs ontbloot word deur die korrekte rotering en vashegting van elk van die deeltjies.

Die korrekte plasing van die legkaartdeeltjie simboliseer hoe die spesifieke grondeienskap bestuur moet word. Slegs wanneer al hierdie eienskappe reg bestuur word, kan die grond optimaal presteer, aldus die perfekte prentjie.

Versameling en korrekte plasing van legkaartdeeltjies

Grondpresisiedienste en data-ontleding is ʼn wenkombinasie

Deur die MYSOIL CLASSIFICATION™- en ITEST™ SOIL-dienste word ʼn groot hoeveelheid van die grondlegkaartdeeltjies geïdentifiseer. MYSOIL CLASSIFICATION™ identifiseer die variasie in grondfisiese eienskappe soos tekstuur, potensiële worteldiepte, beperkende lae, en so meer. Die gebruik van hierdie inligting dryf ingeligte bewerkings- en bestuurspraktyke.

ITEST™SOIL identifiseer variasie in grondchemiese eienskappe, wat dit moontlik maak om die grondnutriëntstatus (soos pH-vlakke) en grondeienskappe vanaf chemiese oorsprong (soos die toeslaan van gronde) korrek te bestuur.

Die verdere kombinasie hiervan met die MYDATA MINING™-diens, maak dit moontlik om te bepaal presies hoe die legkaart gebou moet word. MYDATA MINING™ behels die gebruik van opbrengsdata (bekom vanaf stroperkaarte) en die evaluering daarvan teenoor verskeie presisieveranderlikes met die doel om patrone te identifiseer en afleidings te maak.

So is dit moontlik om interaksies op te tel wat nie noodwendig vanselfsprekend voorkom nie, en/of om vermoedens vanaf ʼn onbevooroordeelde (of objektiewe) oogpunt te bevestig. Dit lei tot meer doeltreffende besluitneming en presisieaanbevelings vir verbeterde landbouproduksie.

Suksesse deur Agri Technovation behaal in Wes-Australië op kleingrane

Deur MYDATA MINING™ toe te pas op MYSOIL CLASSIFICATION™-data versamel op ʼn plaas naby Brookton, Wes-Australië gedurende 2020, was dit moontlik om die drie grootste beperkings tot wortelgroei en opbrengs te identifiseer, naamlik hoë klei-inhoud(1) en anaerobiese toestande( 2), kompaksie en(3) hoë volume klip-fraksie (Figuur 1).

Die korrekte bestuur van hierdie beperkende kondisies het die volgende behels:

l installasie van dreinering (in areas waar klei en natheid ʼn beperking was); en l bewerking met ʼn skeurploeg (in areas waar kompaksie en hoë klipfraksie ʼn beperking was).

Na die implementering van die ingeligte bestuurspraktyke het die opbrengs van hierdie areas met 0,6 t/ha verbeter (Figure 2 en 3).

Grond

Verdere data-ontginning met dieselfde produsent se ITEST™SOIL-resultate het getoon dat die beste kanola-opbrengs verkry was in areas waar die P-Bray I-fosfaatvlakke in die grond tussen 25 mg/kg en 30 mg/kg was (Figuur 4).

Na ontginning van hierdie waardevolle data, was dit moontlik om met sekerheid te bevind dat addisionele bemesting op areas met grond P-waardes hoër as 30 mg/kg geen verbetering in oesopbrengs tot gevolg sou hê nie. Met hierdie plaasspesifieke dataontginning kon die bemestingprogramme aangepas word om onnodige kostes en antagonistiese reaksie weens oorbemesting te vermy.

Data-ontginning kan ook gebruik word om die interaksie van grondfisiese eienskappe en grondchemiese eienskappe op oesopbrengs beter te verstaan en dus korrek te bestuur.

Hier dien die Ca:Mg-verhouding in die gronde van dieselfde plaas in Wes-Australië as voorbeeld. In grond word die Ca:Mg-verhouding algemeen gebruik as ʼn indikasie van die stabiliteit van die grondstruktuur. Dié tendens word in Figuur 5 geïllustreer, weer eens met die gebruik van Wes-Australiese plaasdata.

Gronde met ʼn klei-inhoud van 1% in die A-horison trek meer voordeel uit die teenwoordigheid van hoër Mg-vlakke as hoër Ca:Mg-verhoudings. ʼn Afname in kanolaopbrengs word dus gemerk soos die Ca:Mgverhouding toeneem (linkerkant).

Kanola in gronde met ʼn hoër klei-inhoud van 25% in die A-horison trek weer meer voordeel uit die verbetering in die Ca:Mg-verhouding, wat in beurt weer lei tot ʼn verbetering in deurlugting en waterpenetrasie in die hoër kleihoudende gronde (regterkant).

Grond

Ten slotte

Data-ontginning deur MYDATA MINING™ in kombinasie met MYSOIL CLASSIFICATION™-, ITEST™SOIL-ontledings en  opbrengskaartdata maak dit moontlik om dieper en meer verfynde insigte te bekom rakende die reaksie van gronde op toe gepaste praktyke, asook hoe opbrengs verbeter kan word. Daar is ook die verdere v ooruitsig om die data-ontginning wat reeds op biologiese komponente van die gron d gedoen is, te integreer met die chemiese en fisiese komponente en sodoende die per insigte rakende die holistiese bestuur van grond te ontwikkel.

Deur al die legkaartdeeltjies bymekaar te maak en elke deeltjie dan reg te plaas, verskyn  die hele prentjie en is dit moontlik om die volle potensiaal van die grond daarvolgens te ontgin. Met voordele soos dié in die vooruitsig, behoort elke produsent ʼn grondlegkaartte bou en die waarde te ontsluit.