Avo-unsplash

Avokado blomme en vrugset – presisieboerdery kan help om opbrengste te Verhoog

Deur Jaques Landman

Tegniese Bestuurder New Zealand Agri Technovation

Inleiding

Presisieboerdery het ’n algemene term geword vir die gebruik van satelliet-tegnologie wat geïntegreer is met ander hoë-tegnologie-toerusting om inligting van die oes-data te bekom en te interpreteer en dan toe te pas in vele fasette van boerdery praktyke soos die toediening van kunsmis en besproeiing, grond kartering en aanplanting. Data van die metings word gekombineer, gekoördineer en geïnterpreteer deur kundiges ten einde die produsent in staat te stel om bogenoemde praktyke meer effektief te bestuur, produksie te verbeter en doeltreffendheid te verhoog vir potensiële beter winste.

Hierdie voordele is beskikbaar vir elke produsent wat presisieboerdery praktyke wil toepas, ongeag die gewas of die skaal van die boerdery.

In hierdie skrywe word gefokus op avokado produksie en hoe presisieboerdery praktyke gebruik kan word om ’n beter gehalte blom en vrugset te kry, wat weer sal lei tot verhoogde opbrengste en beter kwaliteit vrugte. Die sewe sleutel aspekte van avokado produksie wat bespreek word met verwysing na gepaste presisieboerdery praktyke is die volgende:

Boomgesondheid

Klimaatstoestande

Voedingstowwe status

Peste bestuur

Groeibestuur

Besproeiingsbestuur

Boomgesondheid

Hier word spesifiek gefokus op wortel gesondheid en blaardekking.

Wortelgesondheid bestuur
Ten einde optimale opbrengste te verseker, is dit belangrik dat die avokado boom ’n gesonde wortelstelsel het wat in stand gehou word.

Dit beteken dat die wortelstelsel ten volle funksioneel moet wees vir effektiewe voeding- en wateropname. Wortelstelsels moet die groei van voordelige mikro-organismes aanhits wat dan indirek bydra om wortelsiektes te onderdruk. Daar is verskeie fisiese, chemiese en biologiese faktore wat wortelgroei beïnvloed, wat in wisselwerking die toestande vir die ontwikkeling van die wortelstelsel te beïnvloed.

Presisieboerdery praktyke maak dit moontlik om die veranderlikes wat op wortelgesondheid impakteer, naamlik deklaagbewerking, kunsmistoedienings, besproeiing en soutvlakke, effektief en tydig te bestuur en tydige kunsmistoedienings en deklaagbewerking te doen. Die effektiewe bestuur van hierdie veranderlikes kan wortelgesondheid optimaliseer en sodoende bydra tot verbeterde  opbrengste. Die langtermyn monitering en konsekwente ontledings van veranderinge in die diversiteit en aktiwiteite van grond mikro-organismes deur die MicroLife Navorsingsentrum, sal ook insig lewer oor die bogrondse impakte van verskeie landbou praktyke op die gesondheidstatus van grond waarin die wortels groei en funksioneer.

Blaarbedekking
Blaardak-bestuur (canopy management) is die manipulasie van die boom se takke om die produksie van top kwaliteit vrugte te optimaliseer. Oor die algemeen produseer bome wat kleiner gehou word deur die blaardak te bestuur, meer vrugte aangesien kleiner bome beter vaar met die vaslegging en omskakeling van sonlig, as groot bome. Bome wat se blaardak beter bestuur word is baie meer energie doeltreffend omdat vrugte nader aan die senter van boom stam gehou word.

Boomspasiëring, boom uitdunning, en meganiese of hand snoei tegnieke moet gebruik word om optimale lig indringing en benutting binne die avokado blaredak te verseker. Dikwels moet ’n kombinasie van hierdie tegnieke gebruik word om oormatige skadu wat veroorsaak word deur oorbevolking van bome of oormatige vegetatiewe groei binne die blaredak, te verminder.

Die primêre doel van blaardakbestuur (hou die boom op die ideale grootte) is dus om meer lig in die blaardak te kry, aangesien dit lei tot verhoogde vrugte produksie.

Met effektiewe blaardakbestuur is daar beter penetrasie van spuitstowwe in die blaardak en is dit makliker om die bome te bestuur wat betref pluk, plaag- en siektebeheer. Blaardak-bestuur behels veel meer as net snoei en boom opleiding maar sluit ook die regulering van die groei van die blomme en vrugte in.

Effektiewe blaardak-bestuur by avokados is ook belangrik vir optimale vrugte produksie.

By avokado produksie is die doel of teiken altyd:

  • om verhoogde vrugkwaliteit en vruggroote te kry, sonder om die vrugte opbrengs te verminder; en
  • om vrugte te produseer wat:
    • vry is van interne en eksterne
      versteurings;
    • uitstekende hou vermoë het; en
    • mees belangrik vir verbruikers –
      geen vrot kolle het nie.

Effektiewe blaardak bestuur deur middel van presisieboerdery praktyke kan verseker bydra om hierdie teikens te behaal.

By Agri Technovation word daar tans met die gebruik van Verde tegnologie verskeie tegnieke toegepas om die blaardak area te meet, soos in Tabel 1 op die volgende bladsy uiteengesit.

Klimaatstoestande

Klimaatstoestande kan op verskeie maniere impakteer of avokado produksie: Oor die algemeen is Avokadobome sensitief vir ryp toestande. Die beste temperatuur vir groei is 25 °C tot 28 °C (humiditeit bo 60%).

Avokadobome wat in produksie is, is sensitief vir water “stress”. Die jaarlikse reënval behoort hoër as 1 000mm en goed verspreid te wees, met die enigste droë tydperk vanaf Junie tot einde Julie. As reënval baie hoog tydens blom is, is insek-aktiwiteit weer laer wat swak bestuiwing tot gevolg het. Bye is ook minder aktief gedurende koue weer wanneer temperature daal tot onder 16°C. Die mees geskikte avokado produksie areas in Suid-Afrika ondervind droë toestande tydens blom, met die gevolg dat aanvullende besproeiing noodsaaklik is gedurende hierdie fase.

’n Hoë humiditeit (meer as 50% by 2:00 nm)
is wenslik aangesien dit strestoestande verminder, veral die negatiewe effekte van hoër temperature. Humiditeit speel ’n belangrike rol tydens blom- en vrugset. Lae relatiewe humiditeit lei tot swak stuifmeel aktiwiteit. Wind kan ook blomontwikkeling beïnvloed omdat droë winde blomme kan uitdroog.

Voedingstowwe

Presisie praktyke rakende voedingstowwe behels die gereelde analise van blaar- en grondmonsters. Hierdie twee praktyke word in meer detail hieronder bespreek. Die groeifases en ooreenstemmende nutriënte word ook na verwys en uiteengesit.

Blaarmonsters en analise
Optimale blaarvoeding is kompleks. Plante benodig 16 elemente (anorganiese voedingstowwe) vir normale vegetatiewe groei en reproduksie. Kennis en insig van die verskeie elemente, hoeveel van elk benodig word en die impak van interaksie tussen die verskeie elemente is noodsaaklik ten einde die blaarmonsters betekenisvol te ontleed en te verstaan. Met hierdie insig is dit moontlik om die tekorte in voedingstowwe effektief aan te spreek ten einde optimale vegetatiewe en reproduktiewe groei te verseker. Blaarontledings maak dit moontlik om waar te neem wat nie met die blote oog sigbaar is nie, en dan hierdie ‘versteekte honger‘ aan te spreek.

Die fokus van blaarontledings is om ’n plant se reaksie op voedingstowwe te bepaal wanneer blaarprodukte toegedien word. Presisie blaar monsterneming bied produsente verskeie voordele:

Grondmonsters en analise
Die verhoudings tussen elemente in die grond is baie belangrik. Grondchemie analises verskaf antwoorde op belangrike vrae rakende insetkostes wat produsente aan die begin van elke seisoen moet beantwoord, soos byvoorbeeld:

  • Wat sal die insetkoste wees? (mikro-elemente, pH regstellings, ens.)
  • Wat sal spandeer moet word op voorbereiding?

Presisie-gebaseerde prosesse soos grond-chemiese ontledings en kaarte wat pro-aktiewe gedoen word, kan produsente kostes bespaar aangesien kostes nou geimpakteer word deur die kennis en insigte wat bekom is deur die toepassing van presisie praktyke. Die produsent is nou in staat om te sien watter voedingstowwe, en hoeveel daarvan waar spesifiek op die plaas toegedien moet word. Produkte word aangewend slegs waar dit benodig word en in die korrekte hoeveelheid. Daar is geen verspilde uitgawes op produkte wat nie benodig word of oortollige toediening nie.

Gebalanseerde grondkunsmisprogram
Presisieboerdery is die sleutel tot die beste landboubestuurspraktyke. Dit stel boere in staat om die spesifieke voedingstowwe wat nodig is vir hul gewasse, in presies die regte hoeveelhede en op die regte tye by te voeg. Daar is ook die kommer wat betref kunsmistoedining, dat te veel voedingstowwe toegedien (en derhalwe gemors) word en die omgewing daardeur benadeel word.

Agri Technovation bied ’n verskeidenheid bemestingbestuur hulpmiddels om gewas-produksie te optimaliseer. Hierdie waardetoevoeging maak dit vir boere moontlik om presisie toedienings te doen volgens blok spesifieke toestande, wat uit die aard van die saak ’n baie meer effektiewe gebruik van die bemestingsmiddels is. Dit lei weer tot ’n vermindering van koste omdat minder bemestingsmiddels aangekoop word. Die presisie (verminderde) toediening het dan ook ’n verminderde nadelige uitwerking op die omgewing.

Blaarprogram/blaarvoeding vir kritieke tye
Indien die voedingstof- vlakke in avokado blare onder die aanvaarbare norm is, kan blaar spuite toegedien word ten einde die opbrengste te verhoog en vrug grootte te verbeter. Die tydsberekening van die spuite is baie belangrik. Blaar spuite op blomme moet plaasvind sodra die eerste individuele blomme begin oopmaak.

Groeifases en nutriënte
‘n Volwasse avokado boom kan meer as 1 000 000 blomme produseer waarvan slegs 0.3-0.5% set. Blom-ontwikkeling en set kan opgebreek word in 5 fases naamlik blom-inisiasie, blom-ontwikkeling, volblom, vrugset en vroeë vrug ontwikkeling. Dit is tydens hierdie fases dat daar ʼn hoër aanvraag na en onttrekking van voedingstowwe is, as gevolg van die moontlike bestaande gewas, sowel as die ontwikkeling van blomme, nektar produksie, blaar ontwikkeling en wortel aktiwiteit. Belangrike faktore wat gedurende hierdie fases in ag geneem moet word, word hieronder in Tabel 2 uiteengesit.

Die blomtydperk is ’n energie-gedrewe proses. Avokadobome benodig nutriënt reserwes tydens blom en set. Nutriënt opname deur die wortels is gewoonlik steeds laag tydens blomtyd as gevolg van die koel temperature van laat winter. Die temperature beïnvloed die tempo van transpirasie sowel as wortel aktiwiteit. Die boom kan ondersteun word deur blaartoedienings van spesifieke voedingstowwe tydens sekere fenologiese stadiums. Die tydsberekening vir hierdie bespuitings is van kritiese belang. Produsente kan oorweeg om bome tydens swaar blom te ondersteun deur blaarvoeding wat hoog in aminosure en ensieme is, toe te dien.

Dit blyk uit Tabel 2 dat die belangrikste elemente tydens blom-en vrugset die volgende is:

  • Stikstof, fosfaat, kalium, sink, boor, kalsium
  • Koolhidrate

Peste bestuur

Hier word hoofsaaklik gefokus op die belang van monitering en die rol van bye.

Moniteer voor toediening
Gewas-verwante peste is oor die algemeen verantwoordelik vir ’n beduidende vermindering in opbrengste. Met verloop van tyd het dit toenemend moeilik geword om met konvensionele riglyne  peste effektiewelik te monitor en te beheer.

Met die toepassing van presisieplaagmonitering word die produsent weekliks voorsien van kaarte van plaag-en siektevoorkoms. Hier kaarte word deur kundiges geïnterpreteer en die inligting aan die produsent weergegee, sodat laasgenoemde gereed is om tydig aksie te neem teen die peste en op die korrekte plek in die boord.

Bye – bestuiwers
Die avokado blom het beide stuifmeel en nektar wat bye gewoonlik sal lok, maar as gevolg van die blomgrootte, ongewone blom volgorde en laer suikerkonsentrasie in die nektar, trek die blom nie baie heuningbye nie. Trouens, die voorvaderlike bestuiwers van avokado was klein perdebye en vlieë. Daarom, terwyl inwoner bevolkings van wilde bye Avokadobome sal besoek en bestuif, sal hulle dikwels meer aangetrokke wees tot ander plante wat gedurende dieselfde tyd in blom is. Die bestuiwingsdoeltreffendheid van bye in die geval van avokados is dus beperk.

Bye is bekend vir hulle vermoë om ’n area te verken en hul voorkeur plante te teiken. Nuwe bye in ’n gebied sal nie hierdie kennis hê nie en sal aanvanklik die naaste blomme teiken, en dan geleidelik hul kennis opbou. Om avokado bestuiwing te maksimeer, is dit beter om vars byekorwe in te bring aan die begin van blom (verkieslik wanneer die blomme, rofweg, 10% oop is). Aangesien die bye ander blomme sal vind om te besoek, moet die korwe nie te vroeg ingebring word nie, (bv. Perdeblom, Wilde Radys, en ander wildeblomme). Selfs wanneer die Avokadobome by volblom is, sal die bye voorkeur gee aan die eerste blomme wat hulle gevind het toe hulle na die area geskuif is.

Die plasing van die byekorwe binne die boord moet ook oorweeg word. Hulle is die beste geplaas in klein groeperings relatief eweredig versprei binne die blokke wat blom, teen ’n koers van twee tot vyf korwe per hektaar. Korwe moet nie aan die buitekant van die blokke plaas word nie aangesien verkennende bye alternatiewe blomme vinniger kan vind en dan die avokado blomme ignoreer.

Groei bestuur

Avokadobome is baie geil en kan vinnig die toegelate ruimte in die boord oorgroei. Daarbenewens word daar geglo dat hul buitensporige vegetatiewe groei plaasvind ten koste van hul reproduktiewe groei. Laasgenoemde is verantwoordelik vir vrugset en opbrengs. Vroeër vegetatiewe groei is goed, maar vegetatiewe groei tydens blom is nadelig vir blom-en vrugset. Avokado word ook gekenmerk deur swak vrugte set soos voorheen genoem.

Kort na blom- en vrugset, begin die eerste lente stuwing. Die geil boomgroei kan bestuur word deur snoei en/of chemiese groei reguleerders. Laat blom en laat hangende vrugte moet gemonitor word gedurende die seisoen.

Snoei
Wanneer Avokadobome gesnoei word is dit belangrik om altyd die beplande einddoel in gedagte te hou en moet daar nie te min of te veel van die boom gesnoei word nie. Wat vir een boom werk, werk dalk nie vir ’n ander boom nie. Snoeiwerk moet dus gedoen word op ’n geval-tot-geval basis, aangesien geen twee Avokadobome dieselfde is nie. Avokado-
bome is geneig om wyd uit te tak met slegs matige apikale oorheersing. Voordat gesnoei word moet dus besluit word op die eindresultaat en hoe die boom moet lyk oor die volgende 2, 5, 10, en 15 jaar.

Snoei help met blom-ontwikkeling en set deur onnodige direkte kompetisie vir nutriënte binne die plant te verwyder. Dit verhoog die koolhidrate vlakke wat dan vir die vrug beskikbaar is.

Chemiese groei beheer
Groei reguleerders is ontwikkel en word gebruik op avokado om vegetatiewe groei te verminder en sodoende ’n groter oes op die avokadoboom teweeg te bring. Daar moet egter slegs op gesonde bome en nie op gestresde bome gespuit word. ’n Laeveld Agrochem agent kan in hierdie verband adviseer.

Laat blom en hangende vrugte
Deur die vrugte tot laat in die seisoen te laat hang en sodoende vrugte met ’n hoë olie-inhoud te pluk, word die reserwes van die boom ernstig uitgeput en sal die volgende seisoen se oes daardeur negatief beïnvloed word.

Laat blom sal kompeteer vir voedingstowwe en koolhidrate in die boom en indien dit nie gemonitor en beheer word nie, sal dit lei tot swak set en klein vrugte. Dit is van toepassing op bome wat sigbare stres simptome het bv. bome wat koue skade gelei het en vrugte wat met ryp skade op die bome hang. Die gesondheid van hierdie bome is gewoonlik swak. Vrugte en blomme op ’n boom plaas baie druk (benodig baie) energie en voedingstowwe. ’n Gestresde boom sal verder skade lei as die oeslading nie goed bestuur word nie.

Besproeiingsbestuur

Enige waterstres tydens vrugset sal hoër vrugval veroorsaak en lei tot laer produksie.

Produsente moet dus seker maak dat avokado’s nie oor-besproei word  op probleem gronde nie. Wanneer Phytophthora teenwoordig is, kan die bome nie water doeltreffend opneem nie.

Watervereistes moet dus baie akkuraat gemoniteer word. Aangesien water so ’n belangrike kommoditeit is en met tyd meer waardevol raak, moet die mees doeltreffende besproeiingsmetodes in die avokado bedryf toegepas word, ten einde te verseker dat waterbronne optimaal benut word. Optimale waterbenutting is moontlik deur gebruik te maak van Agri Technovation se MyIrrigation™. MyIrrigation™ is ’n innoverende besproeiingsoplossing maar ook ’n revolusionêre, intydse metodologie wat elke druppel water laat tel. Toepassing van hierdie presisie praktyk lei tot verbeterde opbrengs, sonder om enige watervermorsing.

Gevolgtrekking

Dit is duidelik dat presisie praktyke avokado produsente kan bystaan in elke sleutel aspek van avokado produksie ten einde die aspek meet effektief te bestuur. Presisieboerdery is nie ’n produk wat verkoop word nie – dit is ’n totale besigheidsfilosofie.

Dit behels geïntegreerde bestuur van boerdery-aktiwiteite, akkurate metings- en databasisbestuur, en insiggewende kundige verslagdoening. Die kombinasie van hierdie faktore maak dit moontlik vir die produsent om meer akkurate en ingeligte besluite te neem rakende die avokado produksie. Beter en tydige besluitneming veroorsaak dat die produsent meer effektief boer, wat weer lei tot verhoogde opbrengs en winsgewendheid .

Agri Technovation bied produsente ’n presisie pakket, met die oog op ’n geïntegreerde benadering met behulp van al die beste moontlike hortologiese praktyke. In die toekoms sal meer produktiewe nuwe kultivars en hopelik ook dwergende onderstokke dalk ook uiteindelik produksie verder kan verhoog, maar hulle sal nooit heers oor soliede, inligting-gebaseerde hortologie praktyke nie.

For more information contact Agri Technovation on +27 21 300 0543 | info@agritechnovation.co.za or visit www.agritechnovation.co.za