Dr. Elmi Lötze (Hoof van ITEST™CARBOHYDRATES en ITEST™LEAF), Waldo Krige (Senior Hortoloog) en Wilmé Brown (Plant Fisioloog)
Inleiding
Die effek van alternerende drag in avokado’s is steeds ʼn uitdaging. Die verskynsel is reeds baie suksesvol aangespreek in bladwisselende gewasse soos appels, pere en sekere steenvrugte deur middel van groeibeheer en chemiese manipulasie van vruggetalle. Die beheer behels vegetatiewe manipulasie om die balans tussen groei en vrugbaarheid te handhaaf met behulp van, onder andere, dwergende onderstamme, plantgroeireguleerders en snoeipraktyke. Soortgelyk word die aantal vrugte per boom gemanipuleer deur wintersnoei, blom- en vruguitdunning met behulp van chemiese middels en/of handuitdunning. Hierdie praktyke het bygedra tot ʼn baie kleiner variasie in opbrengs tussen opeenvolgende jare.
Die avokado-uitdaging
Daar is aansienlik minder praktyke vir die beheer van alternerende drag in avokado’s weens die gebrek aan dwergende onderstamme en geregistreerde middels vir blom- en vruguitdunning. Verder is snoeipraktyke meer gerig op lighuishouding en nie ʼn standaard manipulasie vir die bestuur van oeslading nie. Alternatiewe oplossings moet vir avokado’s gesoek word.
Hormone en suiker by set en vrugval
Blominduksie is nie die hoof beperkende faktor by avokadoproduksie nie en ʼn oormaat blomme word normaalweg gevorm (Bender). Dus moet gefokus word op die manipulasie van set en/of vrugval gedurende die afjaar, wat reeds die vorige jaar (aanjaar) begin. Beide hierdie prosesse word beïnvloed deur ʼn hormonale, voedings- en koolhidraat- komponent (Wolstenholme en Whiley 1989; Whiley en Wolstenholme 1990). Gedurende ʼn aanjaar reageer die boom op ʼn spesifieke manier ten einde die huidige, groot oes te onderhou. Die meeste hulpbronne word gekanaliseer na die vrugte – wat ook die sterkste sinke is. Bogrondse vegetatiewe groei is dus normaalweg onder beheer en kompeteer nie te veel met set nie, wat dan lei tot ʼn goeie oeslading. Die hoë set het wel tot gevolg dat baie energie in die aanjaar gebruik word en dat die sade van die baie vrugte die hormoonbalans in die boom aanpas. Vrugval daarna (rondom 50%; data nie gepubliseer nie) is die volgende natuurlike regstelling van die boom om die balans te handhaaf. Dus volg ʼn natuurlike afjaar daarna, tensy ingrypings op die vlakke betyds gedoen word in die aanjaar.
Interne hormoonvlakke vir set word onder andere gereguleer deur die wortels (Bower et al. 1990). Daarna vind vervoer van hormone plaas na die blare toe waar dit die sluit van huidmondjies en ʼn afname in fotosintaat (suiker) veroorsaak, wat vrugval kan vererger. By hoë-opbrengs boorde is dit dus baie belangrik om ook toe te sien dat gesonde wortelontwikkeling voortdurend voortgaan om interne hormone te verskaf en stres te bestuur. Aangesien wortels laag in die rangorde lê as sink vir koolhidrate, moet dit ʼn doelbewuste fokus wees.
Set- / oesmanipulering vir alternering
Aangesien blom- of vruguitdunning nie ʼn algemene praktyk by avokado’s is nie, moet ʼn alternatiewe benadering tot alternerende drag gevolg word om ingrypings soos snoei in die aanjaar te maak ten einde drag die daaropvolgende jaar te verhoog. Die bestuur van die koolhidraat- en hormoonstatus van die boom met behulp van toedienings van voeding of biostimulante op kritieke aksietye gedurende die seisoen, het reeds goeie resultate in sitrus gelewer. Die koolhidraatstatus van die boom het reeds by inisiasie ʼn belangrike rol by finale set gespeel (Wolstenholme en Whiley 1989; Whiley en Wolstenholme 1990). Avokadoproewe die afgelope twee seisoene deur Agri Technovation (AT) in Australië waar die koolhidraat-en hormoonstatus bestuur is met spesifieke blaarspuitprogramme, het tot verhoogde set en opbrengs in Hass gelei en die rol van suikers bevestig (Smith H., ongepubliseer AV16005).
Deur gereelde koolhidraat- en blaarontledings te neem op die spesifieke tye, kon bestuurspraktyke aangepas word deur te besluit watter boorde ʼn verhoogte set kon hanteer, deur middel van ʼn voedingsprogram ʼn verhoging in set te induseer en daarna stappe te neem om vrugval en vruggrootte te bestuur deur fotosintese te reguleer. Laasgenoemde is noodsaaklik om sodoende op die positiewe effek van ʼn hoër set te kapitaliseer en praktyke moet dus verseker dat daar voldoende koolhidrate is en dat suikervervoer na die vrugte geskied. Koolhidrate speel dus ʼn belangrike bydraende rol tot die bepaling van die finale produksie van ʼn blok.

Figuur 1: Die verwantskap tussen opbrengs en stysel (stam) gedurende alternerende drag in Fuerte. Aangepas uit Whiley 1990.

Figuur 2: Die verskil in styselvlakke tydens alternerende drag in avokado’s met hoër waardes vir stysel in die winter (groen) wat gelei het tot beter blom en set en hoër vrugval in die aanjaar, teenoor die afjaar in rooi.
Hoewel alternerende drag nie finaal deur een seisoen opgehef kan word nie, word geglo dat die geïntegreerde benadering tot verhoging van set reeds in die aanjaar moet begin en dan deurlopend aangepas moet word om geleidelik die af-jaar se opbrengste te verhoog en die verskil tussen jare te verlaag. Oor tyd en afhangende van die ingrypings, behoort die aan-jaar se opbrengste dus stelselmatig te verlaag om die balans in die boom natuurlik te handhaaf.
Samevatting
Die bestuur van alternerende drag in avokado’s is ʼn uitdaging wat oor tyd en met ʼn geïntegreerde benadering wat fokus op die manipulasie van hormonale, voedings- en koolhidraatvlakke, verbeter kan word. Agri Technovation beskik oor kennis en produkkeuses vir hierdie benadering. Deur spesifieke ingrypings gedurende die aanjaar, kan produsente nie net set verbeter nie, maar ook vrugval en vruggrootte effektief bestuur. Die deurlopende toepassing van bestendige ingrypings oor verskeie seisoene kan ʼn beduidende impak hê op opbrengste en die opbrengsverskil tussen opeenvolgende jare verminder. So kan produsente uiteindelik meer volhoubare en voorspelbare avokado’s opbrengste behaal.
Verwysings 1. Bender, G.S. 2013 Flowering Book 1 Chapter 3 – 39 (https://ucanr.edu/sites/alternativefruits/files/121264.pdf). 2. Bower et al. 1990. Interaction of plant growth regulators and carbohydrate in flowering and fruit set. Acta Hort. 275:425-434. 3. Smith, H. unpublished AV16005 4. Whiley, A.W. en Wolstenholme, B. N. 1990. Carbohydrate management in avocado trees for increased production. South African Avocado Growers’ Association Yearbook 1990. 13:25-27 5. Wolstenholme, B.N. en Whiley, A. W. 1989. Carbohydrate and phenological cycling as management tools for avocado orchards. SA Avocado Growers’ Assoc Yearbook 12, 33 – 37.