Wyndruiwe: Knopbreek-koolhidrate kraai koning
deur Wilmé Brown (Plantfisioloog) en Dr. Elmi Lötze (Hoof van ITEST™CARBOHYDRATES, ITEST™LEAF en Navorsing en Ontwikkeling)
Koolhidrate en wingerdbou
Die wingerdstok benodig koolhidrate ten einde die winter (waartydens blare afwesig is en aktiewe fotosintese nie kan plaasvind nie) te oorleef en om vegetatiewe groei gedurende die komende seisoen te ondersteun totdat blare weer begin vorm. Alhoewel dit nie slegs die na-oesperiode is wat belangrik is vir die opbou van koolhidraatreserwes nie, is hierdie periode ook essensieel vir die aanspreek van die akkumulasie van stysel in die stam, wortels en lote voordat blaarval begin.
Alvorens blare volwassenheid bereik en dan suikers aan die plant verskaf, is nuwe blare met die aanvang van knopbreek aanvanklik sinke vir die beskikbare koolhidraatreserwes uit die wortels en lote (Martínez-Lüscher and Kurtural, 2021). Dit is dus belangrik om vroegtydige koolhidraatontledings te doen, 2 tot 4 weke voor knopbreek, vir tydige aanpassings op selektiewe blokke, vanaf blom. Hierdie ontledings kan gedoen word met die ITEST™ CARBOHYDRATES-diens.
Tyd om reserwes op te bou
Tydens fotosintese word die essensiële energiebron naamlik suiker in die groen weefsels van die wingerdstok, hoofsaaklik die blare, vervaardig.
Gedurende die seisoen word suikers verbruik deur ʼn verskeidenheid sinke op die plant.
Suikers word ook getranslokeer na die lote, stam en wortels, die primêre reserwe organe, waar dit omgeskakel word in die reserwe koolhidraatbron, naamlik stysel (Smith and Holzapfel, 2014).
Die omskakeling van suikers na stysel vind gedurende die hele seisoen in verskillende dele van die plant plaas. Die persentasie van omskakeling, die fenologiese stadium waartydens, en die orgaan waarbinne dit plaasvind, verskil egter en hou verband met die onderskeie sinke wat op die spesifieke stadium van omskakeling voorkom. Die translokasie van suiker vanaf die blare na die wortels vind aldus plaas gedurende aktiewe wortelgroei.
Gedurende oes word die primêre sink, die trosse, verwyder, wat ʼn positiewe effek op die fotosintese van die stok het. Op daardie stadium funksioneer die stok optimaal vanweë die volledige blaardak en die omgewingstoestande (Zufferey et al. 2012). Die gevolg hiervan is dat addisionele energie in die plant beskikbaar is vir die verbruik daarvan deur sekondêre sinke soos lote en wortels.
Dit is dus die ideale tydperk om die opbou van koolhidraatreserwes aan te spreek vir die bladwisselende gewas. Die stok sal gedurende dormansie asook die opvolgende seisoen staatmaak op koolhidraatreserwes in die stoororgane vir alle metaboliese aksies tot by blom, wanneer die nuutgevormde blare volwasse word en die blare die primêre bron van suikers word. Dit is dus belangrik om na die gesondheid van die stok om te sien sodat die blare kan aanhou fotosinteer voordat blaarafsnoering plaasvind.
Snoei
Vir die effektiewe bestuur van oeslading en troskwaliteit in wingerdbou, is dit standaard praktyk om lote tydens die winter te snoei. Met die verwydering van die lote, word reserwe koolhidraatbronne egter ook verwyder. Dit is dus belangrik dat die lote wat op die stok behoue bly sterk en dik moet wees ten einde die mees moontlike hoeveelheid reserwes te kan stoor (Pellegrino et al. 2014). Gedurende die na-oestydperk is die rol van die wortels as reserwe koolhidraatbron dus onontbeerlik, ten einde voldoende ondersteuning te bied tydens knopbreek.
Koolhidraatontledings tydens die vroeë na-oesperiode kan belangrike inligting bied rakende die energiestatus van die stok vir die komende seisoen en kan die produsent so in staat stel om betyds aanpassings te maak ten opsigte van die beoogde oeslading vir die volgende seisoen, asook die strafheid van snoei.
Knopbreek
Voor knopbreek in die lente word stysel omgeskakel in suiker en getranslokeer vanaf die permanente strukture soos wortels en lote om knopbreek en blom te ondersteun. Koolhidraatvlakke kan dus reeds 2 tot 4 weke voor knopbreek deur koolhidraatontledings van die lote en wortels bepaal word.
In wingerdbou is egalige knopbreek en blom van groot waarde met betrekking tot die toepassing van bestuurspraktyke soos bespuitings, aangesien die stokke binne ʼn bepaalde blok op dieselfde tyd in dieselfde fisiologiese stadium is. Die rypwording van korrels en blom vind dan ook meer egalig plaas en lei tot optimale suikervlakke tydens oes, wat die alkoholinhoud en die kwaliteit van die wyn positief beïnvloed.
Knopbreekpersentasie teenoor die suikervlakke in lote en wortels
Koolhidraatontledings is gedoen deur Agri Technovation in verskillende wingerdboustreke van Suid-Afrika.
Lote
Resultate het getoon dat suikervlakke in die lote van stokke 2 weke voor knopbreek afneem, maar dat daar ʼn toename in die knopbreekpersentasie is (Figuur 1). Hierdie verwantskap dui aan dat metaboliese prosesse reeds voor knopbreek plaasvind en dat die lote die orgaan is vanwaar koolhidrate eerste verskaf word vir verbruik. Die omskakeling van stysel na suikers vind dus reeds plaas voordat knopbreek waarneembaar is (Duchene et al. 2003). Daarna word koolhidrate van meer distale organe (wortels) verbruik, soos die vaatbundel-verbindings tussen die nuwe lote en die volwasse hout van die vorige seisoen begin vorm.
Figuur 1: Suiker:stysel-verhouding gebaseer op die koolhidraatindeks van wyndruiflote in verskeie bloke in Suid-Afrika teenoor die knopbreekpersentasie.
Die omskakeling van stysel na suikers vind dus reeds plaas voordat knopbreek waarneembaar is (Duchene et al. 2003). Daarna word koolhidrate van meer distale organe (wortels) verbruik, soos die vaatbundel-verbindings tussen die nuwe lote en die volwasse hout van die vorige seisoen begin vorm.
Wortels
Die verhouding tussen die suikers in die wortels en die knopbreekpersentasie word getoon in Figuur 2 waar hoër suiker dui op beter knopbreekpersentasies. Dit verskil duidelik van dié van die lote, aangesien die omskakeling van stysel na suiker in die wortels eers op ʼn latere stadium plaasvind. Dit dui weer eens op die noodsaaklikheid van beskikbare wortelkoolhidrate tydens knopbreek, welke status behaal kan word deur goeie bestuur gedurende die seisoen en ʼn optimale na-oesstrategie.
Figuur 2: Wortelsuikers van verskeie bloke teenoor knopbreekpersentasie.
Samevatting
Die ITEST™CARBOHYDRATES diens, gedoen 2 tot 4 weke voor knopbreek, verskaf insigte oor die toekomstige knopbreek- en blompotensiaal in wyndruiwe. Dit maak dit moontlik om verskeie aksies toe te pas en Agri Technovation se gespesialiseerde produkte toe te dien om suboptimale koolhidraatvlakke te bestuur.
Kontak jou naaste Laeveld Agrochem agent of Agri Technovation-spesialis om koolhidraatmonsters op wyndruiwe te neem.
Verwysings:
- Duchene et al. 2003. Effects of ripening conditions on the following season’s growth and yield components for pinot noir and gewurztraminer grapevines (vitis vinifera l.) In a controlled environment. J. Int. Sci. Vigne vin 37, n°l, 39-49.
- Martínez-Lüscher and Kurtural. 2021. Same season and carry-over effects of source-sink adjustments on grape vine yields and non-structural carbohydrates. Front Plant Sci 12:695319.
- Pellegrino et al. 2014. Management practices impact vine carbohydrate status to a greater extent than vine productivity. Frontiers in plant science.
- Smith and Holzapfel. 2014. Post-harvest care of grapevines: Irrigation and nutrition.
- Zufferey et al. 2012. Carbohydrate reserves in grapevine (Vitis vinifera L. “Chasselas”): the influence of the leaf to fruit ratio. Vitis 51 (3), 103–110.