Makadamia

Solophus bied n sakpas oplossing vir makadamiaboorde

Solophus bied n sakpas oplossing vir makadamiaboorde

deur Riaan Brummer, Senior Hortoloog en CP van Aardt, Senior Hortoloog

Kunsmispryse noodsaak effektiewe toediening

Met die huidige prys van makadamianeute is dit nou belangriker as ooit om die beste waarde uit jou kunsmis te kry. Groot hoeveelhede kunsmis word oor jare herhaaldelik toegedien, maar nie al die toegediende kunsmis word noodwendig deur die boom opgeneem nie. Die volle waarde waarop gehoop word ten tyde van die aangaan van die insetkoste realiseer dus nie. Daar is verskeie faktore wat die vaslegging van elemente in die grond, aldus die onbeskikbaarheid daarvan aan die boom, en dus ook die effektiwiteit van die kunsmis, kan beïnvloed.

Vanweë die wisseling in kunsmispryse die afgelope twee jaar, is dit van groot belang dat dit wat wél in jou grond is, in ’n plantbeskikbare vorm moet wees vir die boom om dit effektief te kan gebruik. So word die volle potensiaal van die elemente in die grond ontgin en onnodige insetkoste vermy.

Laat die grond herleef

Met hierdie noodsaak in gedagte, het Agri Technovation die produk SoluPHOS™ (M99) ontwikkel, wat deur die toediening van spesifieke bakterieë, naamlik Pseudomonas fluorescens en Pseudomonas putida, die elemente wat in die grond vasgelê is – hoofsaaklik fosfaat (P) en kalium (K) – weer beskikbaar maak vir opname. Fosfaat- en kaliumbevattende produkte is tans van die duurste kunsmis-produkte op die mark. Beide hierdie elemente speel ’n beduidende rol by makadamiabome.

Deur die gebruik van SoluPHOS™ kan die vasgelegde elemente weer aan die boom beskikbaar gestel word en kan boere hul P- en K-peile in ’n kunsmisprogram snoei en so kostes besny. Om hierdie voordeel te kan geniet, is dit belangrik om te weet wat die status van die grond is.

Belang van P en K by makadamias

Fosfaat

Fosfaat is nie mobiel in die grond nie en ’n plant kan slegs P opneem as dit in die grond-oplossing teenwoordig is. Enige energieproses wat in die boom plaasvind gebruik (en benodig dus) adenosientrifosfaat (ATP) en alhoewel ’n oormaat P skadelik kan wees vir makadamias, kan ’n tekort aan P lei tot swak blom, swak neutset of ’n groot neutval, wat verseker beperkte opbrengste tot gevolg sal hê.

As deel van die Proteacea-familie, ontwikkel makadamiabome ’n heftige en vlak wortelstelsel met baie wortelhare wat ’n “mat” onder die boom vorm, ’n sogenaamde wortelbondel (“cluster”). Hierdie wortelbondel is baie effektief vir die opname van minerale, spesifiek fosfaat, uit die grond. Fosfaat-tekorte egter, verhoed dat die wortelbondels vorm, wat weer lei tot ’n verminderde opname van kunsmis.

Kalium

Die vername rol wat kalium by makadamiabome speel is welbekend. Kalium het ’n groot invloed op ’n boom se koolhidraatvlakke en neutgrootte en -kwaliteit word direk nadelig beïnvloed indien kalium-tekorte voorkom.

Makadamia

Figuur 1: Voorbeeld van ’n Agri Technovation ITEST™SOIL PBray 1-kaart wat die opbou van P in die grond vanweë jarelange kunsmistoedienings aandui.

Makadamias

Figuur 2: MYFARMWEB™-uitbeelding van die GPS-punte waar blaarmonsters in Oktober 2022 deur Agri Technovation geneem is.

Die herlewingstrategie

Die aanbevole strategie om gronde te laat “herleef” met die hulp van SoluPHOS™ is “meet en weet”. Dit is noodsaaklik om eers omvattende grond- en blaarontledings te doen, sodat daar bepaal kan word waar die elemente in oorvloed in die grond teenwoordig is en/of vasgelê is.

Stap 1: Bepaal die grond-chemiese status en implementeer ’n effektiewe bemestingsplan

Dit kan gedoen word met presisiedienste van Agri Technovation se ITEST™SOIL-voedingstofontleding, ten einde te bepaal wat die voedingstatus van die grond is en daarvolgens ’n effektiewe bemestingsplan vir die seisoen saam te stel.

Stap 2: Doen blaarontledings om vas te stel wat werklike opname is

Effektiewe bemesting kan slegs plaasvind as ’n boer al die relevante parameters in berekening bring. Naas die voedingstofontledings, is blaarontledings ’n verdere parameter om in ag te neem. Twee blaarmonsters kan jaarliks geneem word om vas te stel wat die boom se werklike opname is, welke resultate dan gekorreleer word met wat visueel op die boom waargeneem word, insluitend vegetatiewe groei en opbrengs.

Stap 3: Doen mikrobiologiese ontledings

Die ontleding word gedoen om die teenwoordigheid van fosfaat-mineraliseringsbakterieë asook die diversiteit van die grondmikrobiologie vas te stel. Dit kan gedoen word met ’n presisiediens soos die grondgesondheidsontleding (ITEST™MICROLIFE) wat deur die Agri Technovation Microlife Research Centre (MRC) gebied word. Die SoluPHOS™-aanbeveling word dan ooreenkomstig hierdie resultaat, in kombinasie met die resultate van die ander presisie-ontledings gemaak.

Stap 4: Strategiese toediening

’n Grondtoediening-toediening van SoluPHOS™ word strategies aanbeveel in die lente, soos wortelaktiwiteit en temperature toeneem, teen 1L/ha.

Aangesien SoluPHOS™ vasgelegde elemente ontsluit, word dit dan toegedien op die blokke waar daar hoë P- en K-vlakke in die grond is.

Die tyd van toediening is van strategiese belang aangesien dit ook die tydperk is waartydens ’n makadamiaboom veral P benodig, voor die aanvang van die uitermatige blomproses waartydens groot hoeveelhede energie deur die boom verbruik word. ’n P-tekort gedurende hierdie tydperk kan ’n swak neutset of groot neutval veroorsaak.

Waar K-vlakke in die grond reeds hoog is (soos bepaal deur ’n grond-chemiese presisie-ontleding) sal SoluPHOS™-toedienings voordelig wees om die kalium wat reeds in die grond teenwoordig is, meer plantbeskikbaar te maak. SoluPHOS™-toedienings gedurende tydperke waar die boom groot hoeveelhede kalium benodig, kan dus ’n besparing vir die boer se sak beteken, omdat dit wat reeds toegedien is ontsluit word, eerder as om verdere toedienings (meer insetkoste) te doen.

Voordele van SoluPHOS™

  • Organiese fosfaat en kalium word omgeskakel in plantopneembare vorm.
  • Vergroot die plant se wortelvolume.
  • Verbeter water-, stikstof- (N) en kaliumopname.
  • Verseker optimale plantgroei en opbrengstel.
  • Verminder die hoeveelheid P- en K-bemesting waar dit opbou in die grond.
  • Dra by tot die diversiteit in die grondmikrobiologie

makadamias

Figuur 3: Resultate van Agri Technovation se blaarontledingsdiens ITEST™LEAF: Vertoon die P-blaarvlakke en dui aan (per blok) waar die vlakke onder die norm was.

In ’n neutedop

Die uitdaging vir makadamiaboere is om steeds ekonomies te boer in ’n tyd waar neutpryse verswak het terwyl die koste van kunsmis wissel. Die oplossing tot die uitdaging lê weer eens in ’n holistiese benadering. Verdere of herhaalde toedienings van kunsmis op boorde waar daar reeds baie elemente “in die (grond) bank is”, gaan nie noodwendig effektiewe plantvoeding tot gevolg hê of ekonomies effektief wees nie. Die ware oplossing lê daarin om te meet, te weet en dan effektief te bemes. Effektiewe (mees ekonomiese) bemesting sluit in om seker te maak dat dit wat reeds toegedien en dus alreeds in die grond is, optimaal benut word alvorens verdere insetkoste aangegaan word. SoluPHOS™ stel boere in staat om dit suksesvol te kan doen.