Koolhidrate in avokados

Koolhidrate en blomontwikkeling in avokado’s

Koolhidrate en blomontwikkeling in avokado’s

deur Dr. Elmi Lötze, Hoof van ITEST™CARBOHYDRATES en ITEST™LEAF en Wilmé Brown, Plantfisioloog

Blomontwikkeling verg energie

Avokadobome blom in oorvloed, alhoewel slegs ’n klein persentasie van die blomme set en tot volwasse vrugte ontwikkel. Hierdie proses word beïnvloed deur koolhidrate en planthormone.

Koolhidrate (suiker en stysel) dien as die energiebron van die plant. Suikers, geproduseer deur fotosintese in die blare, word verbruik deur die blaar of getranslokeer na ander ontwikkelende organe. Suiker kan ook vanaf styselomskakeling verkry word gedurende ’n periode van swak assimilasie of hoë sinksterkte. Indien koolhidraat-tekorte gedurende blomontwikkeling voorkom, kan dit lei tot ’n verlaging in blomintensiteit, -kwaliteit asook die potensiële opbrengs. Dit is daarom belangrik om die energiestatus (aldus die koolhidraatvlakke) te meet voor die energie-intensiewe periode van blom plaasvind en daarop te reageer.

Suksesvolle vrugset begin reeds voordat die blommetjie oopmaak en bestuiwing deur ’n insek of wind kon plaasvind. Die proses begin tydens induksie, wanneer ’n knop hormonaal gestimuleer word om reproduktief of vegetatief te ontwikkel. As die koolhidraat:stikstof- (C:N) verhouding hoog is gedurende die tyd, word blomknopinduksie gestimuleer (Tromp, 2000). So beïnvloed plantvoeding dus die bepaling van reproduktiewe induksie. Induksie is nie visueel waarneembaar nie.

By pere kan dit vanaf volblom tot etlike weke daarna voorkom (Bubán en Faust, 1982), teenoor inisiasie wat eers daarna, ongeveer 60 dae na volblom of by lootgroeistaking, plaasvind en met behulp van ’n skandeerelektron mikroskoop waarneembaar is (Pratt, 1988; Westwood, 1978).

Blomknopontwikkeling

Inisiasie vind oor tyd en nie op ’n spesifieke tydstip plaas nie en varieer na gelang van draposisie (Figuur 1). Inisiasie en blomknopontwikkeling word wel gestimuleer deur stikstofbemesting, maar sodanige bemesting moet gedurende die laat-somer van die vorige seisoen gedoen word (Williams, 1965).

Koolhidrate

Figuur 1: Ontwikkeling van individuele avokadoblomme (A–G) en stamper (H-K) (California Avocado Society 1951 Yearbook 36: 159-163).

Die stikstofbemesting kan, saam met die gelyktydige verhoogde voorsiening van hormone vanaf die wortels, verder bydra tot goeie blomkwaliteit (Verheij, 1996). Voeding speel dus ook ’n beduidende rol om inisiasie en differensiasie te ondersteun. Voorts het Bower et al. (1990) die belangrike rol van witwortelontwikkeling (vervaardiging van sitokiniene deur die witwortels) vir knopbreek en volgehoue produksie in avokado’s bevestig.

Net soos omgewingstoestande, lewer blomkwaliteit ook ’n belangrike bydrae tot suksesvolle vrugset. Volgens Thorpe et al. (2019) is styselvlakke laag in blommetjies op aanjaar- en hoog op afjaar-avokadobome. Lae styselvlakke in blomme lei tot swakker set die daaropvolgende jaar (Alcaraz en Hormaza, 2009).

Dus is dit belangrik om voorsiening te maak vir voldoende energie vir die ontwikkelende blommetjies in die afjaar. Optimale fotosintese en vervoer van die koolhidrate na die blomme in aanjaar-bome is ’n prioriteit om vrugset in die afjaar te kan bestuur.

Blaarontledings kan aandui of die mineraleelemente voldoende is vir optimale fotosintese, asook of die voedingselementvlakke voldoende is om die vervoer van suiker na die blomme te verseker. Stysel-akkumulasie is afhanklik van die vervaardiging van suiker in die blare asook die aantal sinke op ’n gegewe tyd. Die oordadige blom van avokado’s (hoë energieverbruik) plaas ’n addisionele las op die vervaardiging en verspreiding van suiker gedurende blom.

Suikerontledings van avokadoblommetjies het aangedui dat een oop avokadoblom 55 mg suiker bevat (AT). Dus sal een avokadoboom tot 55 kg suiker vir blomontwikkeling benodig tydens die blomperiode. Addisionele energiespuite gedurende hierdie intensiewe periode van koolhidraatverbruik kan dit gedeeltelik aanspreek, tesame met besproeiing en oesregulering.

Normale blomontwikkeling benodig verder ook voldoende minerale-elemente in die regte balans (Westwood, 1978). Hier speel veral boor (B) ’n belangrike rol. In avokado’s vorm boor ’n kompleks met suiker (perseïtol) vir vervoer in die floëem vanaf die blare na die blomme en vrugte (Thorpe et al., 2011).

Alhoewel die ontwikkelende blom ’n sterk sink vir koolhidrate en minerale is, is die vrugte aan die boom die sterkste sink (Figuur 2). Dit beteken dat wanneer beide die blomme en die vrugte terselfdertyd aan die boom is soos tydens blom, koolhidrate by voorkeur na die vrugte getranslokeer sal word en tot ’n mindere mate na die blomme. Dit het ook ’n effek op die boorbehoefte van die sinke, aangesien die behoefte groter is. Weens die sterker kompeterende sink-aksie van die vrugte, is dit van groot belang om reeds voor blom addisionele boor toe te dien om in die vrugte se behoefte te voorsien en sodoende direkte kompetisie met die blomme te verminder. Dit sal verseker dat daar voldoende boor vanaf die blare beskikbaar is tydens die ontwikkeling en bestuiwing van die blommetjies.

Koolhidrate

Figuur 2: Die orde van sinksterke van die organe van ’n avokadoboom

Bestuursaksies om ’n lae koolhidraatindeks aan te spreek.

Koolhidrate

Met die nodige voedingsinsette kan die boom se fotosintetiese kapasiteit verhoog word om te voorsien aan die koolhidraatbehoefte tydens die ontwikkelingsperiode van die blomknop tot by blom.

Indien lae koolhidraatvlakke voorkom as gevolg van ’n hoë vruglading of ongunstige klimaatstoestande, mag blomontwikkeling, die aantal blomknoppe, blomkwaliteit en toekomstige vrugset daaronder ly.

Ten slotte

Dit is dus belangrik om die bome se koolhidraatvlakke betyds te meet ten einde die nodige regstellings te kan maak. Die bepaling van koolhidraatvlakke is moontlik met die ITEST™ CARBOHYDRATES-diens wat Agri Technovation verskaf, en stel die boer in staat om betyds die nodige stappe te neem om seker te maak dat hul avokadobome genoegsame energievlakke het vir suksesvolle blomontwikkeling.

Verwysings:

1. Bower et al., 1990. Interaction of plant growth regulators & carbohydrate in flowering & fruit set. Acta Hort. 275:425-434.

2. Bubán en Faust, 1982. Flower bud induction in apple trees: internal control and differentiation. Hortic. Rev. 4: 174–203.

3. Alcaraz en Hormaza, 2009. Avocado Pollination and Fruit Set – A Perspective from Spain. California Avocado Society 2009 Yearbook 92:113-135

4. Pratt, 1988. Apple flower and fruit: Morphology and anatomy. Hort. Rev. 10: 273- 308.

5. Thorpe et al., 2011. Is boron transport to avocado flowers regulated by carbohydrate supply? Proceedings VII World Avocado Congress 2011.

6. Thorpe et al., 2019. Alternate bearing in Hass avocado: Possible role of carbohydrates and boron. Presentation at 4th Australian and New Zealand Avocado Growers Conference in Cairns.

7. Tromp, 2000. Flower bud formation in pome fruits as affected by fruit thinning. Plant Growth Regulation. 31: 27-34

8. Verheij, 1996. Morphological aspects of the early phases of flower bud formation of apple. Thesis, Agricultural University Wageningen, pp. 147.

9. Westwood, 1978. In: ‘Temperate-zone pomology.’ San Francisco, W. H. Freeman and Company 10. Williams, 1965. The effect of summer nitrogen applications on the quality of apple blossom. J. Hort. Sci. 40, 31-41.