AdobeStock_294696277.0

Koolhidraat- en mineraalontledings op alternerende drag in avokado’s

Deur August Kruger, Hortoloog & Senior Grondkundige en Michael Bufé, Senior Hortoloog, Agri Technovation

 

Die jaarlikse wêreldwye produksie van avokado’s word beraam op meer as sewe miljoen ton.2 Die vrug se voedsame pulp het ’n buitengewone hoë vetinhoud in vergelyking met ander vrugte en bevat verskeie vitamines en minerale.1 Vanweë die feit dat vette twee maal die energie bevat as suikers van ekwivalente massa, is die avokadovrug ’n duur orgaan vir die boom in terme van energie en vereis die vervaardiging daarvan die teenwoordigheid van ’n beduidende hoeveelheid fotosintetiese koolhidrate.

 

Hierdie vereiste maak die avokado potensieel meer geneig tot alternerende drag as ander vruggewasse. Indien ’n avokadoboom nie genoegsame koolhidraatvlakke vir blom en vrugset kan opbou nie, sal dit ’n afjaar met swak opbrengs tot gevolg hê.5,6 Ten einde alternerende drag te verminder en/of te beperk, is dit van kardinale belang om fotosintese en fenologie (die seisoenale lewensiklus) te verstaan7 (Fig. 1; 2). Fotosintese gebruik die koolstof in CO2 en lig- energie van die son om chemiese-energie in koolhidrate vas te lê. Koolhidrate word dan gebruik as boublokke vir ander strukture (soos vette) en as energiebron vir chemiese reaksies in die plant.4 Blare word geklassifiseer as vegetatiewe organe wat die fotosintetiese proses dryf. Voldoende hoeveelhede blare word benodig om genoegsame koolhidraatvlakke op te bou.

 

Aanvanklik gebruik blare koolhidrate in hul eie ontwikkeling en word beskou as ’n sink (orgaan wat koolhidrate benut om te ontwikkel) maar word later self bronne van koolhidrate wanneer dit volledig ontwikkel en fotosinteer. Wortels is stoororgane maar ook primêre stoor- organe. Blomme is voortplantingsorgane wat in vrugte ontwikkel en is na die vrug, self die grootste sink vir koolhidrate.4,6

 

Aangesien hierdie organe onderling vir koolhidrate kan kompeteer, is dit belangrik om die korrekte tipe groei op die korrekte tydstip aan te wakker.7 Na oes, behoort die bevordering van genoegsame energie vir die komende seisoen die fondasie vir die opbou van koolhidrate te lê, terwyl reproduktiewe groei aan die einde van die winter aangewakker moet word.

 

Die mees vername voedingselemente en hul onderskeie rolle in koolhidraatsintese word hieronder gelys:

– Stikstof is ’n bekende manipuleerder-element wat gebruik word om vegetatiewe groei aan te moedig, wat dan uiteindelik koolhidraat-sintese sal aanwakker.6

– Kalium speel ’n rol in stomatabeheer en beïnvloed dus die toegang van koolstof tot die blaar vir fotosintese. Kalium is ook ’n fotosintetiese ensiemaktiveerder en speel ’n rol in die kort afstand vervoer van koolhidrate.3,4

 Magnesium is ook belangrik vir die vervoer van suikers en is die sentrale atoom in die chlorofil molekule wat lig opneem vir fotosintese.3,4

 Fosfor is ’n tussenganger van fotosintese en is deel van die ATP molekule, die energie-eenheid van selle.3,4

– Sink word gebruik vir die vervaardiging van chlorofil en is deel van die ensieme wat werk aan die fotosintetiese elektronoordrag.3,4

 Koper en yster is ook teenwoordig in verwante ensieme.3,4

 Mangaan is deel van die fotolise van water gedurende fotosintese.3,4

 

Agri Technovation beskik oor ’n wêreldeerste kommersiële laboratorium vir die meting van koolhidraatvlakke in blare en wortels van avokadobome. Deur die koolhidraatstatus van avokado’s te moniteer kan die koolhidraat-sintesesiklus gemeet en gemonitor word om vroegtydig alternerende drag te antisipeer en voorkomend op te tree. Figuur 1 is ’n voorbeeld van avokadoboom styselvlakke en illustreer die verband wat koolhidraatvlakke, spesifiek styselvlakke, tipies op die opbrengs van die gewas behoort te hê. Die ITEST™ CARBOHYDRATES blaarmonster ontleed egter totale koolhidrate en kyk na suiker- asook styselvlakke teenwoordig in die blare apart, om ’n volledige uitdrukking van die koolhidraatstatus van die boord aan te bied per plaasvlak.

 

Dit word aanbeveel dat daar 4 keer op kritieke fenologiese stadiums per seisoen koolhidraat- vlakke sowel as voedingsvlakke in die blare op avokado’s ontleed word en dat wortels minstens twee keer vir koolhidraatvlakke ontleed moet word. Dit is belangrik om te verstaan dat die fenologiese stadium van die bome vir die spesifieke areas in ag geneem moet word vir die effektiewe toepassing van koolhidraatontledings, en dat kritiese elemente (soos genoem hierbo) interaktief optree tydens koolhidraatsintese.

 

Met die nuwe insigte wat gebied kan word deur die toepassing van die ITEST™ CARBOHYDRATES, is dit moontlik om op ’n holistiese wyse die koolhidraat-toestand sowel as die element inhoud van die gewas aan te spreek en so ver as moontlik probeer om eweredige oesladings jaar op jaar te verseker.

 

Agri Technovation se nuutste avokado Carboprodukreeks is spesifiek geformuleer om die sintese en vervoer van koolhidrate binne die plant aan te moedig, terwyl TRY METM, AVO-TO-GROWTM, FLOWER POWERTM te same met die enkel element PHLOEMTM-reeks spesifiek geformuleer is om voedingsbehoeftes op kritieke stadiums deur die seisoen aan te spreek. So maak Agri Technovation dit moontlik om ’n werklike volledige voedingsprogram aan te bied wat uniek is per plaas.

 

Figuur 1: Voorbeeld van avokadoboom styselvlakke tydens “Aan” en “Af” jare en ’n illustrasie van ’n ideale kurwe (Wolstenholme B., 2009).

 

 

 

Bronne

  1. Dreher, M. L. (2013). Hass Avocado Composition and Potential Health Effects. Critical Reviews in Food Science and Nutrition, 738-750.
  2. FAO. (2021, May 21). FAOSTAT. Retrieved from FAOSTAT: http://www.fao.org/faostat/en/#home
  3. Lambers H, C. F. (2008). Plant Physiological Ecology. New York: Springer.
  4. Taiz, L. &. (2010). Plant physiology, 5th Ed. Sunderland, MA.: Sinauer Associates.
  5. Whiley, A. a. (1990). Carbohydrate management in avocado trees for increased production.
    South African Avocado Growers’ Association Yearbook, 13, 25–27.
  6. Wolstenholme, B. (1991). Making an avocado fruit: energy expensive but mineral cheap.
    Avokad: Journal of the South African Avocado Growers’ Association, 11 (5), 8–9.
  7. Wolstenholme, B. (2009). Alternate bearing in avocado: an overview. 4th Australia and New Zealand AvocadoGrowers’ Conference.
  8. Wolstenholme, B. W. (1990). Prospects for vegetative-reproductive growth manipulation in avocado trees. South African Avocado Growers’ Association Yearbook, 13:21-24.

  

For more information, contact Agri Technovation on +27 21 300 0543 or visit www.agritechnovation.co.za. Inquiries can also be sent to info@agritechnovation.co.za via email.