max-O_TVsaeZNlE-unsplash

ITEST CARBOHYDRATES laboratorium

Nuwe insigte op die belangrikheid van koolhidraatontledings in wortels

 

Deur Enzo Janse van Rensburg, Senior Hortoloog
en Erik de Vries, Senior Hortoloog, 
Agri Technovation

 

Agtergrond

Agri Technovation het in 2020 die wêreld se eerste kommersiële koolhidraatlaboratorium gestig, wat vandag vir vrugteprodusente regoor die wêreld vinnige en betroubare koolhidraatontledings verskaf.

 

Dié ontledings verskaf beide die suiker- en styselvlakke van die plantorgaan. Aanvanklik was baie meer blaarmonsters as wortelmonsters geneem vir die ontledings, maar onlangse inligting en data beklemtoon die belangrikheid van koolhidrate in die wortels. Die wortels is ’n stoororgaan wat koolhidrate stoor om belangrike plantgroeireguleerders te vervaardig. Daarom is dit belangrik om die wortels te monster vir ’n akkurate aanduiding van die vlakke in die boom.

 

Die belangrikheid van wortelkoolhidrate in sitrus

Dit is alombekend dat ’n hoë oeslading ’n sitrusboom se vermoë om koolhidrate vir wortel- en vegetatiewe lootgroei te gebruik, beperk (Goldschmidt en Golomb, 1982; Smith, 1976). Bome met groot oesladings versamel koolhidrate in die vrugte, terwyl daar minder translokasie van koolhidrate na wortels plaasvind.

 

’n Boom het ’n gesonde wortelstelsel nodig om elemente soos kalsium en kalium (onder andere), asook water en ander voedingstowwe op te neem. Sekere planthormone word in die wortels vervaardig en is nodig vir belangrike bogrondse reaksies. ’n Gesonde wortelstelsel bied weerstand teen sekondêre stresfaktore soos infeksies van patogene, druk van nematodes en toleransie teen beperkende grond- kondisies soos pH, EG, natheid, droogte ens.

 

Die gesondheid van die wortels beïnvloed direk belangrike en duur bestuurspraktyke soos snoei, oorwerk van bome en bemestings- praktyke en stel die produsent bloot aan onberekende risiko.

 

 

Wat is die praktiese implikasies vir sitrusboere met bogenoemde wetenskaplike bevindings?

Eerstens, is die belangrikheid van ’n gesonde wortelstelsel krities. Vir blaarontledings is daar mineraalnormes van makro- en mikro-element, en nou ook koolhidraatnorme. Die uitdaging is egter om te bepaal wat ’n gesonde of onge-sonde wortelstelsel is.

 

Wortelgesondheid is meestal gebaseer op patogeen en/of nematode infeksies, visuele evaluasies van die wortelstelsel en grondprofiel en/of ’n klassifikasie van grondeienskappe.

Indien die koolhidraatvlakke van sitruswortelstelsels regdeur die jaar geëvalueer- en gemeet kan word teen norme, kan verskeie produksiepraktyke beter en meer effektief bestuur word en die risiko op boomgesondheid beperk word.

 

Daar kan bepaal word wanneer dit die korrekte tyd is om ’n jong boom te plant deur die koolhidraatstatus van wortels van kwekerybome te ontleed. Terselfdetyd kan daar ook bepaal word wanneer dit die korrekte tyd is om bome af te saag vir oorwerk, bome te hervestig, wanneer om sekere elemente te bemes, en wanneer dit die korrekte tyd is om te snoei.

 

Snoei van sitrusbome met behulp van die ITESTTM CARBOHYDRATES laboratorium

As daar nie jaarliks gesnoei word nie, neem die doeltreffendheid van pesbeheerbespuitings af,word boorde ontoeganklik vir spuittoerusting en trekkers, oespraktyke van vrugte word bemoeilik en vrugte word beseer. Sonligpenetrasie deur die boord neem af.

 

Op die langtermyn daal produktiwiteit drasties.Die voordele van snoei sluit in: verbeterde blomkwaliteit (groenblom in plaas van witblom), beter bespuiting- penetrasie, meer doeltreffende oes van vrugte (beweging in rye en tussen bome), beter ontwikkeling van vrugkleur, minder letsels en kraakskil, en verhoogde uitpak.

 

Bome kan meganies, met die hand of in kombinasie van die twee, gesnoei word. Die doel is om ongewenste hout te verwyder sonder om die balans van die boom te versteur of die natuurlike groeipatroon teë te werk. Deur om te snoei, optimaliseer jy die enigste inset in landbou waarvoor ons nie betaal nie, nl. sonlig.    

 

Watter boorde moet gesnoei word?

Alle boorde moet jaarliks gesnoei word, maar sekere boorde moet verkieslik prioriteit geniet:

A) Boorde in alternerende drag. Swaarder wintersnoei word aanbeveel as ’n aanjaar verwag word, om die hoë aantal dra-posisies wat tydens ’n afjaar ontwikkel het te vermin Selektiewe of meganiese snoei tydens blomvorming in die lente, kan ook gebruik word as ’n uitdunningsmetode om die aantal blomme te verminder. Raadpleeg u koolhidraatanalises, aangesien aggressiewe hergroei-reaksie op snoei tydens blomtyd ’n oormatige vrugval kan veroorsaak. Verwydering van te veel lote en blare kan ook lei tot wortelstres.

Snoei gedurende November, gevolg deur vroeë hergroei-bestuur (spasiëring en topping van nuwe lote), bied die beste balans tussen die skep van ligdeurdringing in die blaardak en die produksie van nuwe potensiële blomdraende lote vir die volgende seisoen. Die ideale ouderdom van ’n vegetatiewe loot wat die volgende seisoen blom, is 5 tot 9 maande oud; dit wil sê ’n loot wat ontwikkel het in reaksie op die lente- tot somersnoei (Tabel 1).2

In ’n onlangse studie van Nadorcott mandaryne in Spanje3, het die jaarlikse snoei van alle lentelote wat nie blomme of vrugte aan het nie deur middel van ’n 20cm topping-snit (Figuur 1) gelei tot ’n opbrengstoename van 25% in vergelyking met ongesnoeide bome oor ’n periodevan vier jaar. Die snoei lei tot die groei van nuwevegetatiewe lote wat in die somer en herfs ontwikkel en blominduksie (April/Mei) bereik, gereed om blominduksie te ondergaan.3 Dit is belangrik dat hierdie lote se koolhidraatstatus optimaal is vir blomontwikkeling.

B) Boorde met hoë digtheid. Waarskynlik reeds in jaar vier.

C) Bome met droë hout. Die terugsterwing van lote is die eerste teken van te min lig in die blaardak, tensy dit as gevolg van ernstige rooidopluis, rooimyt of kopertekorte verswak en terugsterf. Bome moet dus jaarliks gesnoei word om seker te maak daar dring genoeg lig deur die blaardak.

D) Te hoë en digte bome. Dit sou verkeerd wees om die probleem in jaar 1 met drastiese snoeimetodes te probeer oplos. Oormatige snoei kan ’n lae wortelsuiker- en wortelstyselinhoud tot gevolg hê en worteldood veroorsaak.

Raadpleeg u blaar- en wortelkoolhidraat-ontledings en maak seker dat wortelkoolhidraat-inhoud optimaal is voordat u aggressiewe snoei oorweeg. Die bome moet eers gesnoei word om oop te sprei en daarna kan korter snoei en fyner snitte oorweeg word. Dit moet oor 2 – 3 jaar gedoen word, sodat nuwe draende hout op die hoofraam en nader aan die hoofstam ontwikkel.

E) Bome wat agteruitgaan weens ouderdom. Ou bome moet deur snoei hernu word. Dit is belangrik om seker te maak dat die afname bloot is as gevolg van ouderdom, en nie ’n patogeen soos Phytophtora nie. Siek of gestresde bome reageer nie goed op snoei nie.

Dit is belangrik dat snoeitoerusting ontsmet word (10% Jik of 5% Formalin), aangesien sekere virusse soos Exocortis deur snoeigereedskap oorgedra word. Gereedskap moet ten minste ontsmet word voordat dit na ’n ander boord oorgeplaas word.

 

Wanneer moet ek my wortels se koolhidraatvlakke ontleed

Die beste tyd om koolhidraat inhoud in wortels te meet is in die winter (na oes en voor snoei) en in die lente. ’n Sitrusboom stoor koolhidrate in die wortels, om in die volgende seisoen te gebruik. Die stoor kapasiteit kan nadelig beïnvloed word deur klimaat, stresfaktore, of oeslading en/of tydsduur van pluk. Dit is dus belangrik om die koolhidraat inhoud in die wortels te bepaal voordat drastiese aksies soos snoei, oorwerk, plant of hervestiging oorweeg word. Agri Technovation het norme vir wortelkoolhidraatvlakke regdeur die jaar, en kan produsente help om te bevestig watter boorde risikohet om skade te lei of nie. Dit kan aksies uitstel, totaal afstel, of aangepaste blaar- en grondtoedienings van voedingstowwe aanmoedig om die wortel koolhidraatinhoud vroeër reg te stel en sodoende praktyke soos snoei en oorwerk veiliger te maak.

 

Verwagte effekte op koolhidraat-inhoud van blare en wortels

In swaargesnoeide bome was die totale suikerkonsentrasie in die fyn wortels beduidend laer as in ongesnoeide bome, 20 dae na snoei (Figuur 1).1 Vervolgens was die wortelgroei geneig om aansienlik minder te wees in die gesnoeide bome in vergelyking met die ongesnoeide bome van 14 tot 49 dae na snoei.

Tot 20% van die wortels het 4 weke na snoei gesterf. Teen 63 dae na snoei het die digtheid van die wortelmassa herstel tot dié van die ongesnoeide bome, hoewel styselreserwes 18% minder was in die fyn wortels van gesnoeide bome op hierdie tydstip. Dit is belangrik om u koolhidraatanalise te raadpleeg om seker te maak dat die wortelkoolhidraat-inhoud optimaal is voordat u aggressiewe snoei oorweeg. Siek of gestresde bome reageer nie goed op snoei nie, om dieselfde rede.

Strawwe snoei tydens blomvorming in die lente kan ’n ernstige reaksie van hergroei tot gevolg hê, en dit kan oormatige vrugval veroorsaak as die koolhidraatvlakke in September laag is.

 

Algemene riglyne vir sitrus

Die volgende hout moet jaarliks verwyder word:

– Ongewenste onproduktiewe rame.

– Gebreekte takkies.

– Takkies wat kruis.

– Doringagtige lote.

 Takkies of takke wat geraak word deur vergroening of Tristeza (pomelo’s).

 

Die volgende moet regdeur die seisoen verwyder word:

 Ou, verwronge, en verstrengelde takkies met klein en geel blare.

 Ou, dun takkies wat na onder wys.

– Takke of takkies wat blomme buite die seisoen of blare sonder bloeisels uitspruit.

 

Die volgende lote of takke word nie gesnoei nie:

 Raamtakke wat korrek gespasieer is.

 Sterk en gesonde nuwe lote.

 Bome wat nie die fisiologiese vrugval voltooi het nie.

 

Figuur 1. In ’n onlangse studie van ’nadorcott’ mandaryne in Spanje, het die jaarlikse snoei van alle lentelote sonder vrugte met ’n 20 cm “topping”-snit gelei tot ’n kumulatiewe opbrengstoename van 25% in vergelyking met ongesnoeide bome gedurende ’n periode van vier jaar. Aangepas van Mesejo et al. (2020).

 

Bronne

  1. Eissenstat, D.M. and L.W. Duncan. 1992. Root growth and carbohydrate responses in bearing citrus trees
    following partial canopy removal. Tree Physiol. :245-257.
  2. Krajewski, A. and E. Rabe. 1995. Effect of heading and its timing on flowering and vegetative shoot
    development in ‘Clementine’ mandarin (Citrus reticulata Blanco). J. Hort. Sci. 70:445–451.
  3. Mesejo, C., A. Martínez-Fuentesa, C. Reiga, S. Balaschc, E. Primo-Millo, and M. Agustí. 2020. Mechanical
    pruning attenuates alternate bearing in ’nadorcott’ mandarin. Scientia Hort. 265 (In press).

  

For more information, contact Agri Technovation on +27 21 300 0543 or visit www.agritechnovation.co.za. Inquiries can also be sent to [email protected] via email.