ITEST CARBOHYDRATES

Belangrikheid van energiebespuitings op sitrus

Geskryf deur:  Johan de Vries, Senior Hortoloog (Sitrus en tafeldruiwe)

Volgens die Citrus Growers’ Association of South Africa se 2021/2022 verslag, was Suid-Afrika die wêreld se tweede grootste uitvoerder van vars sitrus gedurende die 2020/2021 asook 2021/2022 seisoene (CGA, 2021).

Suid-Afrika se sitrusbedryf speel ’n belangrike rol in beide die ekonomie en die landbousektor van die land. Dit is dus van groot belang dat produsente bewus moet wees van die voorsorgmaatreëls wat getref kan word om die eksterne faktore wat produksie kan beïnvloed, effektief te bestuur. Een van hierdie voorsorgmaatreëls is energiebespuitings in Maart.

Waarom kort die plant energie in Maart?

Die blominduksie-periode in sitrus neem middel-Maart in aanvang en duur tot ongeveer einde-Junie. Waar suksesvolle blominduksie plaasgevind het, ontwikkel die maksimum aantal vrugte per boom. Bome speen vrugte as gevolg van omgewingsfaktore, asook vanweë ‘n wanbalans in die boom se energiestatus. Tydens vrugvergroting en rypwording word hoë energievlakke benodig om ’n goeie oes te verseker. Sitrusbome gebruik beskikbare energie in die vorm van suiker en stoor koolhidrate as reserwebron van energie.

Tydens ’n suksesvolle seisoen (van blom tot oes) word beide die beskikbare en reserwe energiebronne gebruik. Wanneer die reserwebronne uitgeput word (gewoonlik tydens vrugvergroting en rypwording) en hierdie “energie” nie vervang word nie, kan die bome ’n alternerende drag siklus betree en opvolgende opbrengste daardeur beïnvloed. Hierdie risiko beklemtoon die noodsaaklikheid van die toediening van energie-blaarvoedings gedurende Maart – met ander woorde, alvorens die aanbreek van die blominduksie-periode.

Wat is alternerende drag?

Alternerende drag verwys na die verskynselwaar bome siklies van ’n swaar opbrengs jaar (aan-jaar) na ’n ligte opbrengs jaar (af-jaar) beweeg. Oor die algemeen word ’n af-jaar gekenmerk deur ’n lae blomintensiteit (’n verminderde aantal blomme), wat lei tot ’n lae opbrengs en hoë vegetatiewe lootgroei.

’n Aan-jaar word weer gekenmerk deur ’n hoë blomintensiteit en daaropvolgende verswakte lootgroei. Soms is dit nie die blomintensiteit nie, maar eerder ’n swaar blomval en/of vrugval wat aanleiding gee tot ’n aan- of af-jaar, wat dan lei tot alternerende drag.

Sodra alternerende drag geïnisieer is, word dit vererger deur die effek van die oeslading op endogene boomfaktore, wat uiteindelik blomintensiteit beïnvloed. Die swaar vruglading van ’n aan-jaar verminder terugkeer-blomme die opvolgende lente, terwyl die ligte vruglading van ’n af-jaar lei tot intense terugkeer-blomme.

Alternerende drag lei tot aansienlike ekonomiese gevolge in talle belangrike boomgewasse, insluitend sitrus.

Gedurende die lae-opbrengs af-jaar by sitrus, is ’n redelike hoeveelheid van die vrugte gewoonlik te groot. Hierteenoor het die meeste vrugte wat in ’n aan-jaar geproduseer word ’n klein vruggrootte, wat ook ’n lae kommersiële waarde het.

Alternerende drag kan wel verhoed word deur die optimalisering van koolhidraatbronne na ‘n oes.

Impak van koolhidrate op alternerende drag

Indien koolhidraatvlakke laag is voor blominduksie, kan bestuurspraktyke (a – d hier onder) toegepas word om reserwes aan te vul of op te bou, of om te verhoed dat reserwes verder verlaag – en so alternerende drag teen werk.

  1. Snoeibeplanning. Beplan tydig die intensiteitcen periode van die herfs- en winter-snoei. Indien koolhidraatvlakke in blare laag is sal ’n strawwe snoei nie aanbeveel word nie. Stel eerder die snoei uit aangesien ’n strawwe snoei die reserwes verder sal uitput.
  2. Beplanning van pluk. Indien koolhidraatvlakke laag is sal ’n vroeër pluk verhoed dat koolhidraatreserwes verder uitgeput word. Vrugte wat langer aan die boom bly hou aan respireer en gebruik dus verdere reserwes.
  3. Bemesting. Mineraal-blaarontledings en koolhidraat-blaarontledings kan saam gebruik word om aanpassings tot die bemestingsprogram te maak. Vir fotosintese (aldus suiker- en styselproduksie) om optimaal plaas te vind, moet die plant genoegsame voedingstowwe hê om hierdie prosesse voldoende te ondersteun.
  4. Ringelering. Hierdie praktyk kan toegepas word waar lae koolhidraatvlakke oorvleuel met ’n hoë oeslading, sodat meer koolhidrate bo die ringeleringswond kan akkumuleer. Hierdie praktyk moet egter nie toegepas word as die koolhidraatvlakke in wortels laag is nie. ’n Verdere afname in koolhidraat-translokasie na die wortels kan die wortels meer vatbaar maak vir grondpatogene.

Kenmerke van ’n goeie energiespuit

’n Energiespuit toegedien in Maart verskaf noodsaaklike voedingselemente en biostimulante in die regte verhoudings aan die boom, vir optimale blominisiasie.

Die opname-persentasie van ’n element in die boom is ook belangrik. Om hierdie rede het Agri Technovation produkte geformuleer wat, deur die toediening daarvan op blare, die opname van kritiese elemente kan verhoog. Die produkte is spesifiek só geformuleer dat die elemente optimaal in die floëem getranslokeer kan word. Die kombinasie van CITRUS-TO-GROW LMO™, ZINC-TO-PERFORM™ en TRY ME™ is hoog in fosfor (P), magnesium (Mg) en sink (Zn).

Die drie produkte word as ’n mengsel gespuit net voor en gedurende die blominisiasieperiode as energie- en mineraalvoeding. In die noorde van Suid-Afrika en in die Noord- Kaap word hierdie produk-kombinasie vanaf middel-Maart tot einde April gespuit.

In die suide van Suid-Afrika word gespuit vanaf begin April tot middel-Mei. Tydens die blominisiasie-periode word daar reeds bepaal hoeveel blomme geïnisieer word vir die opeenvolgende jaar se produksie. Die boom blom dan in Augustus/September.

TRY ME™ is ’n natuurlike biostimulant wat poliamien-sintese stimuleer vir aktiewe seldeling en vrugset verbeter. Poliamiene staan bekend as groei-aktiveerders wat die tempo van seldeling verhoog en proteïensintese, kieming, blom en vrugset aanspoor.

Dit is ook ’n anti-stres molekule, waar dit osmotiese spanning (wat die gevolg kan wees van ’n kalium-tekort), verminder. Dit inhibeer ook die produksie van etileen, wat membraanbeskadiging vertraag. 

Verwysings: CGA, 2022 industry statistics (2021). Citrus Gowers Association of South Africa. Available at: http://c1e39d912d21c91dce811d6da9929ae8. cdn.ilink247.com/ClientFiles/cga/CitrusGowersAssociation/Company/Documents/2022%20Industry%

20Statistics%20Booklet%20(Updated%2026_09_22)_compressed.pdf (Accessed: January 19, 2023).