Screenshot 2025-04-07 at 09.28.35

Vruggrootte op sitrus

Jakkie Stander, Kommersiële Hoof: Produkte Marné de Vries, Tegniese en Kommersiële Hoof: Vrugte en Neute, Enzo Jansen van Rensburg, Senior Grondkundige en Hortoloog

 

Vele voordele

By sitrusproduksie is vruggrootte een van die belangrikste bepalers van winsgewendheid. Groter vrugte is vroeër ryp, kan dus vroeër en vinniger geoes word, maak meer kartonne vol en subsidieer ook die produksiekoste van die hele blok, aangesien die totale oes in meer kartonne verkoop kan word. Verder is die vervoer en verskeping van groter vrugte meer ekonomies aangesien kartonne, ongeag die grootte van die vrugte, dieselfde dimensies en gewig het en aan dieselfde verskepingstariewe onderhewig is. Dus, in die geval van groter vrugte word minder vrugte benodig om een karton te vul en is die waarde van ʼn karton met groot vrugte baie hoër. Die vraag kan dus tereg gevra word: Wat is die hoof faktore wat vruggrootte bepaal en wat kan sitrusprodusente doen om vruggrootte positief te beïnvloed?

 

Faktore buite die beheer van ʼn produsent

Die ontwikkeling van ʼn sitrusvrug bestaan uit drie fases naamlik seldeling (Fase I), waartydens die meeste selle van die vrug ontwikkel, selvergroting (Fase II), waartydens gevormde selle vergroot, en rypwording (Fase III), waartydens vrugte ryp en daarna geoes word. Stadium II word oorheers deur selvergroting en ontwikkeling, vind plaas gedurende Desember tot April en is ook die fase waartydens die vrugdeursnee en totale vruggewig die meeste toeneem (Bain, 1958).

Afgesien van belangrike kulturele praktyke soos bemesting, besproeiing en onderstamkeuse, is die belangrikste faktor wat uiteindelike vruggrootte bepaal die klimaatstoestande vanaf Desember tot April, veral die impak van temperatuur en reënval (Reuther, 1973). Sitrus is ʼn immergroen, subtropiese gewas en lae temperature en min reënval is die faktore wat vruggrootte die meeste beperk (Goldschmidt, 1997). Sitrus benodig warm, sonnige dae met ongeveer 8,5 tot 9,5 ure sonlig en gemiddelde maksimum temperature van tussen 28 °C en 35 °C.

Daarbenewens vereis sitrus gemiddelde nagtemperature van onder 19 °C, wat respirasie en die interne afbreek van suikers beperk en dus ideaal is vir goeie interne vruggehalte. Baie min tot geen vruggroei vind plaas onder temperature van 13 °C (Goldschmidt, 1997). Om hierdie rede is ʼn effektiewe hitte-eenheid (EHE) model beskikbaar (Reuther, 1973) vir die voorspelling van oesdatums van verskeie sitrus kultivars, wat Agri Technovation ook gebruik om vruggrootte voorspellings vroegtydig te bepaal en vroeg genoeg korrektiewe aksies aan te beveel. Effektiewe hitte-eenheid data korreleer redelik goed met datums van vrugrypwording (Reuther, 1973) en alhoewel die model hoofsaaklik gebruik word om vrugrypheid en kultivargeskiktheid in ʼn sekere area te voorspel, kan die model ook goed aangewend word om die effek van temperatuur op potensiële vruggrootte in ʼn spesifieke seisoen te bepaal.

 

Faktore binne beheer van die produsent

Besproeiing

Besproeiing het ʼn beduidende uitwerking op vruggroeitempo en finale vruggrootte (Gilfillan, 1987). Die effek van waterstres op vruggroei en vruggrootte word beïnvloed deur die tydstip en periode van stres in verhouding tot die ontwikkelingsfase van die vrug. Byvoorbeeld, waterstres tydens Fase I van vrugontwikkeling verminder vrugset en beïnvloed vruggrootte dus indirek (Hilgeman, 1977).

Die meeste toename in vruggrootte vind egter plaas tydens Fase II van vrugontwikkeling (Bain, 1958) en waterstres gedurende hierdie fase, afhangende van die duur daarvan, kan (direk) lei tot ʼn afname in groeitempo en finale vruggrootte (Hilgeman, 1977). Kort periodes van waterstres gedurende die laat lente en vroeë somer verminder die groeitempo van vrugte onomkeerbaar. Langer besproeiing-siklusse na afloop van hierdie kort stresperiodes het geen noemenswaardige (positiewe) impak op die finale vruggrootte nie (Cooper, 1963; Hilgeman, 1977). Lang periodes van waterstres tydens Fase II het selfs meer nadelige impak op vruggrootte en lei ook tot fisiologiese newe-effekte in die skil (Hilgeman, 1977).

 

Voedingstowwe

Die belangrikste voedingstowwe wat vruggrootte in sitrus beïnvloed is stikstof (N) en kalium (K) (Chapman, 1968; Gilfillan, 1987). Meer as 40% van die totale droë materiaal van ʼn sitrusvrug bestaan uit K. Om hierdie rede kan enige K-tekort lei tot ʼn vermindering in vruggrootte (Chapman, 1968). Die toediening van K-bemestings en -blaarvoedings kan dus ʼn verbetering in vruggrootte tot gevolg hê, veral wanneer die K-persentasie in die blaar laag is ten tyde van die toedienings.

Bar-Akiva (1975) byvoorbeeld, het by Valencia lemoene ʼn beduidende toename in die K-inhoud van blare (van 0,69% tot 1,36%) gerapporteer na ʼn K-toediening en gevolglik, ook ʼn toename in vruggrootte. Oormatige K-bemestings kan egter lei tot ʼn verhoogde grofheid en dikte van die skil (Chapman, 1968; Morgan et al., 2005). Afgesien van N en K, impakteer elemente soos magnesium (Mg), fosfaat (P) en sink (Zn) ook vruggrootte en is dit noodsaaklik dat hierdie elemente effektief bestuur word om die optimale voedingstatus deur die totale seisoen te handhaaf. Agri Technovation se ITEST LEAFblaarontledingsdienste is beskikbaar om die voedingstatus van ʼn boord op kritieke fenologiese stadiums te bepaal en te monitor, ten einde tydige en vinnige voedingregstellings te maak om optimale vruggrootte te verkry.

 

MyGROWTH™-diens en vrugvergrotingbespuitings

Agri Technovation bied nou die vrugmetingsdiens MyGROWTH™, waartydens vruggroei gemonitor word ten einde optimale opbrengs te bepaal. Die diens bied kultivar-spesifieke groeitendense gegrond op meer as 7 jaar se vruggroeidata versamel deur Agri Technovation, vir elke sitrusproduserende area (vallei) in Suid-Afrika. Gemerkte vrugte word elke 2 tot 4 weke (volgens kliëntevoorkeur) gemeet. Resultate word aangeteken en geplot teenoor die kultivarspesifieke valleinorme (Figuur 1) en word ook met data van vorige jare (dieselfde boord en plaas) vergelyk. Insigte wat hierdeur bekom word, word dan gebruik om belangrike besluite te neem rakende vrugvergrotingstrategieë.

Die insluit van FRUIT-TO-SIZE™ saam met K PHLOEM™ as ʼn blaarvoedingbespuiting is ʼn uitstekende kombinasie van aminosure en voedingstowwe om vruggrootte te bevorder en ondersteuning te bied aan bome met ʼn hoë vruglading. FRUIT-TO-SIZE™ bestaan uit N, P, K, Mg en Zn, tesame met aminosure wat fokus op vruggrootte. K PHLOEM™ is ʼn suiwer hoogs-plantbeskikbare K-produk wat effektiewe K-opname bied. Deur hierdie bespuiting tydens vrugvergroting toe te dien, waar die behoefte aan voedingstowwe van ʼn swaar oeslading die vermoë van die wortels om elemente op te neem oorskry, word optimale vruggroei gehandhaaf.

Figuur 1: MyGROWTH™-vrugmetingsdiens aangetekende resultate.

Ten slotte

Vruggrootte is ʼn belangrike faktor met betrekking tot die winsgewendheid van sitrusproduksie. Verskeie faktore dra by tot die vruggrootte wat uiteindelik behaal kan word. Sommige faktore soos die klimaatstoestande, val buite die beheer van die produsent. Ander faktore, soos besproeiing en plantvoeding, kan wel deur die produsent beheer word. Daar is verskeie dienste en produkte beskikbaar wat produsente kan ondersteun sodat die faktore optimaal effektief bestuur word, ten einde die optimale vruggrootte en dus winsgewendheid te behaal.

K PHLOEM™ – Kunsmisgroep 1 / Reg. nr. K11036 / Wet 36 van 1947. 

FRUIT-TO-SIZE™ – Kunsmisgroep 1 / Reg. nr. K9549 / Wet 36 van 1947.

 

Verwysings: 

1. Bain, J.M. 1958. Morphological, anatomical and physiological changes in the developing fruit of the Valencia orange [Citrus sinensis (L.) Osbeck]. Austral. J. Bot. 6:1–24.

2. Bar-Akiva, A. 1975. Effect of potassium nutrition on fruit splitting in Valencia orange. J. Hort. Sci. 50:85–89.

3. Chapman, H.D. 1968. The mineral nutrition of citrus. p.127-233. In: W. Reuther, L.D.

4. Batchelor, and H.J. Webber (eds.),The citrus industry, Vol. II. Univ. California, Berkeley.

5. Cooper, W.C., A. Peynado, J.R. Furr, R.H. Hilgeman, G. A. Cahoon, en S. B. Boswell. 1963. Tree growth and fruit quality of Valencia oranges in relation to climate. Proc. Am. Soc. Hort. Sci. 82:180–192.

6. Goldschmidt, EE. 1997. Effect of climate on fruit development and maturation. In: S.H. Futch and W.J. Kender (eds.) Citrus Flowering and Fruiting Short Course. Citrus Research and Education Center, Lake Alfred, IFAS, Univ. of Florida. pp. 93-97.

7. Gilfillan, I.M. 1987. Factors affecting fruit size in ‘Tomango’ and ‘Valencia’ oranges and practical measures for

its improvement. Citrus Journal 638:7–13.

8. Hilgeman, R.H. 1977. Response of citrus trees to water stress in Arizona. Proc. Int. Soc. Citricult. 1:70–74.

9. Koo, R.D.I. 1961. Potassium nutrition and fruit splitting in ‘Hamlin’ orange. p. 223–224.

10. Annual Rep. Univ. Florida Agr. Expt. Sta.

11. Lovatt, C.J. 2002. Soil vs. foliar applications of essential mineral nutrient elements (fertilizers) to increase

citrus fruit set, size and quality.

12. Morgan, K.T., R.E. Rouse, F.M. Roka, S.H. Futich, and M. Zekri. 2005. Leaf and fruit mineral content and peel

thickness of ‘Hamlin’ Orange. Proc. Fla. State Hort. Soc. 118:19–21.

13. Reuther, W. 1973. Climate and citrus behaviour. In: The citrus industry, Vol. III W. Reuther, L. D. Batchelor,

and H. J. Webber, (eds). Univ. California, Berkeley.