20240723_122955

PICKLOGGER™ – Vind die regte antwoorde vinniger

Werner Coetzee: Kommersiële Hoof: PICKLOGGER™ | Jan-Willem Boonzaaier: Kommersiële Hoof: Dienste

Opbrengskaarte vir boordgewasse Presisieboerdery en die gebruik van data vir beter besluitneming is integraal tot die volhoubare sukses en winsgewendheid van ‘n boerdery. Produsente wat hul toespits op presisieboerdery en optimale winste najaag, moet nou met ‘n baie fyn oog na variasie in produksie en opbrengs kyk, in stede van bloot die gemiddelde produksie per blok.

Figuur 1: Noord-Kaap gevallestudie: Opbrengskaarte van vyf seisoene wat oesverspreiding aandui.

 

Opbrengskaarte wat die variasie in opbrengs meet was tot onlangs nie beskikbaar vir produsente van boordgewasse nie. Met die ontwikkeling van die PICKLOGGER™, is die krag van opbrengskaarte nou ook in die hande van vrugte en groenteprodusente. PICKLOGGER™ word reeds op ‘n hele reeks gewasse in Suid-Afrika, Amerika, Australië en die res van Afrika gebruik insluitend sitrus, wyndruiwe, tafeldruiwe, avokado, waatlemoen en spanspek. Die waarde-potensiaal wat PICKLOGGER ™ kan ontsluit word, met verwysing na die langtermyn boordprestasie evaluasie gevallestudie, in hierdie artikel gedemonstreer.

 

Gevallestudie: Langtermyn boordprestasie evaluasie

Die gevallestudie is gedoen op ‘n sitrusplaas in die Noord-Kaap waarby Agri Technovation reeds vanaf 2020 betrokke is. Opbrengskaarte van die afgelope vyf seisoene vir ‘n 17 ha Nadorcott blok word vir hierdie doel vertoon (Figuur 1).

Figuur 2: Langtermyn saamgestelde oesverspreidingskaart.

Met die hulp van (alleenlik) oes-opbrengsdata versamel oor verskeie seisoene soos in Figuur 1 vasgevang, kan sekere tendense uitgewys word. ‘n Voorbeeld hiervan is die moontlikheid van alternerende drag waar 2021, 2022 en 2024 deur sommige as aanjare en 2020 en 2023 as afjare geïnterpreteer kan word. Tog, met die hulp van ‘n langtermyn saamgestelde oesverspreidingskaart wat die geweegdegemiddelde opbrengs van die afgelope 5 seisoene ten toon stel (Figuur 2), kan duidelik waargeneem word dat sekere areas (of sones) in die blok jaar na jaar onder-presteer (rooi sones) relatief tot die res van die blok. Die jaarlikse oes-opbrengs in die verskillende sones word grafies uitgebeeld in Figuur 4.

Hierdie insig weerlê eerstens die interpretasie rakende die voorkoms van alternerende drag waarna hierbo verwys word en dan ook die sienswyse dat alternerende drag deur ‘n hele blok voorkom. Met ʼn geweegde gemiddelde opbrengs as basis (Figuur 2) kan chroniese of langtermyn hoog- en laagpresterende sones geïdentifiseer word, welke insigte die afwykings wat in spesifieke jare voorgekom het versag vir ʼn stabiele opbrengstendens. Die langtermyn geweegde gemiddelde opbrengskaart word saamgestel deur swaarder klem te lê op meer onlangse opbrengsdata ten einde die huidige gewasomstandighede te weerspieël, aangesien daar deurlopend deur die jare verbeterings aangebring is, gebaseer op die insigte en bevindings gemaak op grond van die jaarlikse PICKLOGGER™- opbrengskaart.

 

Produksiesones

Die volgende stap in die aanwending van PICKLOGGER™-data is om produksie-sones op te stel. Soos uitgewys, is dit moontlik om met behulp van PICKLOGGER™ langtermyn prestasie-sones te identifiseer. Figuur 3 dui die blok se drie produksie-sones aan wat bepaal is volgens langtermyn geweegde prestasie. Byvoorbeeld, areas in rooi het oor die langtermyn onder-presteer, relatief tot die res van die blok.

Figuur 3: Produksiesones volgens langtermyn geweegde prestasie

In Figuur 4 word die produksie per sone per seisoen aangedui. Die rooi sone (langtermyn swakste 40% van die blok) se prestasie is deurgaans swakker as die res van die blok, teenoor die groen sone (langtermyn beste 40% van die blok) wat deurgaans die beste presteer het. Die data dui ook aan dat die langtermyn geweegde- gemiddelde vir die swakste sone (49,4 t/ha) meer as 17 t/ha (35%) minder is as dié van die beste sone (66,8 t/ha), en amper 8 t/ha (15%) minder is as die gemiddeld (57,1 t/ha) van die hele blok. Dit is ‘n beduidende verskil. Dit is dus beslis die moeite werd om te fokus op die onderpresterende sones, veral op ‘n hoë-waarde kultivar soos Nadorcott. 

Vanuit ‘n presisie-boerdery oogpunt lei die identifisering van produksie-sones tot twee groot voordele vir oorweging: 

  1. Langtermyn produksiesones dui areas aan wat aangespreek kan word. Daar word dus nie elke jaar op ʼn ander area gefokus nie, maar eerder op ʼn noemenswaardige groot area (sone) om sodoende ʼn beduidende impak op produksie en winsgewendheid te hê.
  2. ʼn Algemene argument is dat dit moeilik is om presisieboerdery op boordgewasse toe te pas aangesien ʼn blok met homogene praktyke bestuur word. Deur sones wat tot 40% van die blok-oppervlak beslaan te kan identifiseer, word groter areas uitgewys wat anders besproei, bemes, gemanipuleer, ensovoorts, word. 

 

Die myn van data vir ingeligte besluitneming 

Die identifisering van produksiesones is reeds kragtig, maar deur die produksiesones te koppel met ander presisielandboudata (soos grondklas en grondchemie) en dan die volle datastel te myn vir insigte, kom die waarde van die tegnologie tot sy volle reg. Deur analise van die gesamentlike data van hierdie blok (duisende punte vir langtermyn produksie-, grondklassifikasie- en grondchemie- data) is uitgewys dat die kalsium- en magnesiumvlakke en verhoudings die grootste korrelaat is tussen swak en goeie produksie. Die landboukundige wat die kliënt ondersteun kan nou werk met die datagebaseerde insigte, sterk fokus op presisieregstellings en -praktyke en vinnig identifiseer watter aksies die beste impak op produksie vir hierdie blok kan hê.

Figuur 4: Langtermyn prestasie per sone.

 

Ten slotte

 PICKLOGGER™-data is die finale skakel in presisieboerdery vir boordgewasse en speel ‘n sleutel rol in strategiese besluitneming met die doel om optimale winste te behaal. 

 

Die gebruik van die PICKLOGGER™-toestel ontsluit ‘n nuwe wêreld van data wat dit nou vir produsente van boordgewasse moontlik maak om opbrengskaarte te genereer, langtermyn boordprestasie te evalueer en spesifieke produksie-sones in ‘n boord te identifiseer. PICKLOGGER™-data kan ook saam met ander presisie-landboudata geanaliseer en gemyn word om spesifieke korrekte tendense en insigte uit te wys, om sodoende die nodige presisie-regstellings akkuraat te kan doen. 

Die PICKLOGGER™-toestel word bloot aan ‘n oes-skêr geheg en integreer so moeiteloos met bestaande werkswyses sonder enige ekstra aksies of veranderinge aan praktyke. PICKLOGGER™ verbeter en verhoog dus die waarde van ‘n reeds gevestigde proses – die oes van vrugte en groentegewasse.