Kleingraanblaarontledings vertel ’n storie
deur Dr. Elmi Lötze, Hoof van ITEST™ CARBOHYDRATES en Nicola Kotzé, Senior Agronoom
Blaarontledings spreek boekdele
Blaarontledings op kleingraan kan mineraletekorte identifiseer voordat dit visueel waarneembaar is, wat produsente in staat stel om hierdie tekorte vroegtydig aan te spreek en sodoende kostes te bespaar.
Blaarontledings word algemeen en met groot sukses in permanente gewasse sowel as groentes gebruik om die effektiwiteit van bemestingsprogramme te verbeter. In Kentucky, VSA, het suksesvolle graanprodusente reeds begin om weeklikse blaarmonsters te neem vir doeleindes van presisiebestuur.
Volgens OPDT (Oil & Protein Seeds Development Trust) beloop die koste van koringproduksie ongeveer R4 303 per hektaar, terwyl ʼn studiegroep in die Swartland se produksiekoste ongeveer R2 636 per hektaar vir die 2023- seisoen was (33,5 % van die totale geallokeerde koste). Dit is dus ʼn groot inset teenoor verwagte opbrengs en moet goed bestuur word om wins te verseker.
Figuur 1: Voorbeeld waar blaarontledingsresultate gedoen is tydens stingelverlenging (1ste node) op SST 0187. (Die spesifieke formaat en uitleg van blaarontledings verskil tussen diensverskaffers.)
Blaarontledings kan baie help met die effektiewe bestuur van bemestingskoste, sowel as om opbrengs te verbeter. ʼn Plaaslike proef wat deur dr. Theunis Vahrmeijer in die Swartland gedoen is, het getoon dat toedienings van koper (Cu), sink (Z) en boor (B) tydens stoel, opbrengste vanaf 3,03 t/ha na 3,3 t/ha verbeter het. Dit het ʼn soortgelyke studie elders ondersteun wat ook gevind het dat toedienings van mikro-elemente ʼn positiewe impak op opbrengs gehad het (Ziedan, 2010). Die positiewe effek van mikro-elemente was nie net verbind aan simptome van tekorte nie, maar ook aan die aanvulling daarvan op ʼn kritieke tydstip om opbrengs te bevorder.
Wanneer blaarontledings gedoen moet word
Die volgende is algemeen van toepassing by top kleingraanprodusente:
- Toediening van organiese bemisting ten minste een keer elke 5 jaar;
- Gebruik van variërende tegnologie soos bv. planters wat kunsmis kan varieer;
- Invoortoediening van biostimulante;
- Blaarontledings; en
- Implementering van gepaardgaande regstellings.
Dit is van kritieke belang dat blaarontledings tydens stoel, stingelverlenging (1ste node) en op vlagblaar geneem word. Die potensiaal van die koringopbrengs word reeds vroeg in die seisoen ontwikkel tydens die stoelfase. Mineraaltekorte so vroeg in die seisoen kan reeds die potensiële opbrengs knou. Die voorkoms van visuele tekorte op die blaar soos byvoorbeeld strepe op die vlagblaar, beteken dat die opbrengspotensiaal reeds verswak het. Indien die tekorte vroegtydig geïdentifiseer word kan dit aangespreek word alvorens dit kritiek raak.
Waarde van ontledingsresultate
Die bepaling van die vlakke van stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) in die blare bied verskeie insigte. Hoe meer inligting per plaas ingesamel word, hoe vroeër kan die korrelprogram aangepas word deur die blaar- en grondontledingsdata in die program te inkorporeer, ten einde ʼn meer effektiewe program en dus beter plantprestasie daar te stel.
Die vlakke van ander makro-elemente soos byvoorbeeld kalsium (Ca), kan ʼn aanduiding gee van die plant se wortelontwikkeling. Waar die klimaatstoestande en die grondontledings belowend is, maar daar ten spyte hiervan steeds ʼn Ca-tekort in die blare voorkom, kan die oorsaak daarvan in baie gevalle toegeskryf word aan swak wortelontwikkeling. Die oorsaak vir die swak wortelontwikkeling moet dan eerder aangespreek word as om bloot net nog kalsium toe te dien.
Volgens Liebig se Wet van die minimum word die opbrengs van ʼn gewas bepaal deur die mees beperkende faktor. Dit help dus nie daar word oorbemes met N, terwyl daar ʼn groter tekort aan Cu is nie.
Blaarvoedingspuite spreek tekorte tydig en vinnig aan
Tekorte in mikro-elemente kan maklik aangespreek word deur die toedien van blaarvoedingspuite omdat die hoeveelhede wat benodig word relatief klein is en die effek daarvan op die blare redelik vinnig is.
Tydens vlagblaar is daar ongeveer 5 000 kg/ha biomassa op die land. Om die Cu-vlak met bv. 15 mg/kg te lig, word 75 000 mg/ha (75 g/ha) Cu benodig indien 100% opname plaasvind, wat nooit die geval is nie. Hier bied blaarvoedingspuite die oplossing. Deur ʼn gespesialiseerde enkel-element blaarspuitproduk wat 90 000 mg/L bevat toe te dien teen 1,5 L/ha, word daar in totaal 135 000 mg/ha Cu toegedien, wat voldoende is om die vlakke genoegsaam te lig.
Die effektiwiteit van blaarspuite kan verder verhoog word deur elemente te komplekseer. Met die gebruik van ʼn produk wat ʼn kombinasie van elemente bevat word Cu normaalweg teen 600 mg/kg aangewend, terwyl die aanbevole dosis vir die kombinasieproduk 3 kg/ha is. Dus sal slegs 1 800 mg/ha Cu toegedien word, wat in terme van die voorbeeld hier bo, nie voldoende is nie.
Wat van sapontledings?
Vir mineraalontledings word weefsel eerder as sapontledings gebruik. Daar is verskeie redes hiervoor.
- ʼn Sapontleding het baie hoë variasie en kan ʼn uitdaging wees wanneer dit as basis vir besluitneming gebruik word. ʼn Studie waartydens mielies onder vogstremming vergelyk was met mielies met genoegsame vog, het bevind dat xileemsap variërende resultate gelewer het (Goodger, 2005).
- Sapontledings is nie so akkuraat soos weefselontledings nie (Hochmuth, 1991).
- Sapontledings verskaf inligting rakende die opname van die spesifieke elemente deur die plant en watter elemente beskikbaar is vir metabolisme. Weefselontledings egter, verskaf ook inligting rakende die benutting van die beskikbare elemente deur die plantorgaan.
Samevatting
Deur die grondfisiese en chemiese faktore te ontleed is dit moontlik om te voorspel wat moontlik in die toekoms met die ontwikkeling van die plant kan gebeur. Klimaatstoestande speel egter steeds ʼn beduidende rol in die opname van elemente uit die grond, sowel as die plant se reaksie op ongunstige omgewingsfaktore en kan dus op die voorspelling impakteer.
Blaarontledings maak dit moontlik om met sekerheid vas te stel wat die voedingstofstatus is in ʼn gegewe groeistadium. Dus is eersgenoemde kritiek vir goeie plantprestasie. Dit maak dit moontlik om akkurate en doelgerigte regstellings binne 7 dae te maak sodat die volle gewaspotensiaal binne die gegewe seisoen bereik kan word.
Verwysings:
- G. Hochmuth, , 1991. Plant Tissue Analysis and Interpretation for Vegetable Crops in Florida. IFAS Extension University of Florida.
- J. Q. D. Goodger, 2005. Relationships between xylem sap constituents and leaf conductance of well-watered and water-stressed maize across three xylem sap sampling techniques. Journal of Experimental Botany, 56(419), 2389-2400.
- M.S. Zeidan, 2010. Effect of Foliar Fertilization of Fe, Mn and Zn on Wheat Yield and Quality in Low Sandy Soils Fertility. World Journal of Agricultural Sciences, 6(6), 696-699.