Geskryf deur: Hestia Pienaar, Senior Agronoom
Met besproeiing kom verantwoordelikheid
’n Satelliet afstandwaarnemingstudie wat deur die WNK gedoen is, het berig dat 1 334 562 hektaar grond aktief in Suid-Afrika gedurende 2015 besproei is. Die landbou-industrie is onder konstante druk om verantwoording te doen oor die toekenning van hierdie water, asook om te verseker dat toegediende water doeltreffend gebruik word (Jarmain et al., 2012).
Landbouproduksieinsette het die afgelope paar seisoene skerp gestyg vanweë onder andere die pandemies, oorloë en natuurrampe wat die bedryf geteister het. Derhalwe, ten einde steeds winsgewend te boer, is dit van kritieke belang dat produsente hul insetkoste so doeltreffend moontlik bestuur. ’n Belangrike faset van gewasproduksie is die implementering van ’n effektiewe waterbestuursplan.
Water kan effektief bestuur word
Wanneer die sukses van kunsmistoedienings geëvalueer word, word die impak van waterbestuur dikwels oor die hoof gesien, selfs waar dit een van dié mees kritieke faktore is wat nie net hoë opbrengste bewerkstellig nie, maar ook (by sekere gewasse) gewaskwaliteit beïnvloed.
Jong plante word oor die algemeen oorbesproei en dit veroorsaak dat toegediende kunsmis verby die plante se wortelsone uitloog, waar dit nie meer beskikbaar is vir opname deur die plant nie. Dit is dus belangrik om te weet hoe diep die besproeiing deur die grondprofiel beweeg, sodat die voedingstowwe wat binne die wortelsone van die gewas geplaas is, behoorlik bestuur kan word om optimale opbrengs te verseker.
Soms kan die opbouing van soute in die grond ongunstige groeitoestande veroorsaak, in welke geval loging, tesame met ’n goed-gebalanseerde benadering tot grondregstellings aanbeveel word, om die balans in die grond reg te stel. Die ontleding van ’n ITEST™WATER besproeiings- watermonster maak dit moontlik om die hoeveelheid anione en soute in die besproeiingswater te bepaal en sodoende ’n holistiese waterbestuursplan te formuleer.
Daar is verskeie metodes wat gebruik kan word om besproeiingswater op die lande te skeduleer en die keuse van een bo die ander kan vir produsente soms ’n moeilike besluit wees om te neem. Die belangrikste aspek is dat die volume water wat toegedien is gemonitor word en dat die voginhoud van die grond gemeet of beraam moet word, afhangend van die metode wat gebruik word. Selfs die mees basiese hand-voel-metode is beter as geen metode hoegenaamd.
Gelukkig maak die Internet (Internet of Things of IoT) die monitering van verskeie sensors baie makliker deurdat sensors vanaf ’n afstand gemoniteer kan word. Die grootste frustrasie wat deur hierdie instrumente veroorsaak kan word, is gewoonlik wanneer die toestel nie behoorlik geïnstalleer en/of gekalibreer is nie.
Tensy ’n meteorologiese/modelgebaseerde benadering gevolg word, is dit belangrik om daarop te let dat meeste van hierdie grondvogmeters slegs op ’n enkele punt in die land meet. Die plasing van die toestel (verteenwoordigend van die land), die korrekte installering, asook die kalibrasie van die instrument (relatief tot die gewas wat besproei word) is dus ook van uiterste belang.
Ken en verstaan die grond (grondklassifikasie) vir optimale besproeiingsbeslui
’n In-diepte kennis en insig van die grond-fisiese eienskappe is ’n baie goeie wegspringplek, alvorens besluite rakende die mees gepaste besproeiingsisteem en skeduleringstrategie geneem word.
Met Agri Technovation se MYSOIL CLASSIFICATION ™-diens word die grond-fisiese eienskappe in detail bepaal en weergegee. Inligting soos byvoorbeeld die infiltrasietempo (gemeet in mm/h) van die grond kan help om die mees optimale besproeiingstelsel vir installasie op ’n land te identifiseer,of om die maksimum hoeveelheid water w at die grond sonder oppervlakafloop kan behou, te bepaal.
Die Plantbeskikbare Waterkapasiteit-sones verskaf inligting oor hoe die onderskeie besproeiingsblokke verskillend bestuur moet word, vanweë die variasie in waterretensie.
Ruimtelike inligting oor die grondtekstuur kan ook gebruik word, nie net vir die samestellingvan variërende kunsmistoedienings nie, maar ook om te bepaal wat die sikluslengtes op verskillende besproeiingsblokke behoort te wees en, in sekere gevalle, selfs met die toepassing van variërende tempobesproeiing.
Grondklassifikasie haal die raaiwerk uit die besluit waar grondvogmeters geplaas moet word, deur die punte wat die mees verteenwoordigend van die meerderheid van die land se area is, aan te dui.
Produsente kan dus verseker wees dat hul metings by hierdie punte die beste moontlike data weergee. Daarbenewens word inligting rakende die installering van dreinering in die land (indien nodig) ook verskaf, tesame met die spesifikasies van die dreineringspype wat benodig word en die diepte- en lengte-afmetings van waar dit geïnstalleer moet word.
Die tempo waarteen gewasse water verbruik hang nie net af van die grondeienskappe nie, maar ook van die atmosferiese aanvraag (klimaat) en die behoefte van die gewas (evapotranspirasie). Dus, vir besproeiingskeduleringstrategieë om effektief te wees, moet al hierdie faktore in ag geneem word.